Nóg toekennings vir SA se Karla

Phumza Maweni en Karla Pretorius. Foto: Facebook.

’n Paar maande nadat sy die internasionale verhoog aan die brand gespeel het by die Wêreldbeker-netbaltoernooi in Liverpool, het Suid-Afrika se Karla Pretorius nóg erkenning gekry.

Dié 29-jarige verdediger is as die speler van die toernooi by die Wêreldbeker-skouspel aangewys. Ná die Sunshine Coast Lightning se prysuitdelingsfunksie bars haar trofeekas nog verder uit sy nate.

Pretorius is tydens die funksie as die Australiese span se speler van die jaar én spelers se speler van die jaar aangewys.

Sy het 69 keer – die meeste in die Suncorp-netballiga – die bal onderskep en word wyd en syd as een van wêreldnetbal se gevaarlikste spelers gereken.

Noeline Taurua, Sunshine Coast se afrigter, sê Pretorius kan maklik die koers van ’n wedstryd verander.

“Sy is een van die beste onderskepverdedigers ter wêreld en sy beskik terselfdertyd oor die nodige plofkrag en vermoë om enige wedstryd op sy kop te draai,” het Taurua gesê.

Op haar beurt voel Pretorius dat haar tyd in Australië haar beslis ’n meer afgeronde speler maak.

“Jy oefen en speel teen die wêreld se bestes en elke wedstryd word teen ’n baie hoë intensiteit gespeel. Mens kan nie anders as om ’n beter speler van die baan af te stap nie. Ek leer ongelooflik baie elke dag,” het sy vroeër aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.