Noorse Ruud rol Deense Rune op Roland-Garros

Noorweë se Casper Ruud op die voorvoet. (Foto: Thomas Samson/AFP)

Vergeet vir eers van ʼn burgeroorlog in een van die Vikings-reekse; gister was daar ʼn lekker Skandinawiese tweestryd op Roland-Garros.

En ná vier aksiebelaaide stelle het Casper Ruud vir Holger Rune met 6-1, 6-2, 3-6 en 6-3 ore aangesit om vir ʼn tweede jaar op ʼn streep na die halfeindstryd van die Franse Ope deur te dring.

Die Noorse speler het veral in die eerste twee stelle sy stem dik gemaak en sy kragtige voorhandhoue het sy Deense teenstander onder groot druk geplaas.

Kyk, wanneer Ruud ʼn tennisbal slaan, lyk dit of die wêreld stilstaan. Allesbehalwe die bal natuurlik – dit pyl teen 135 km/h op sy eindbestemming af.

“Dit is nooit maklik om in ʼn belangrike wedstryd teen Holger te speel nie. Hy is ʼn baie aggressiewe speler, maar ek kon darem uit sy foute in die eerste twee stelle muntslaan. Ek het baie punte op ʼn skinkbord gekry,” het Ruud gesê.

Hy sal nou teen Alexander Zverev in een van die halfeindstryde speel nadat die Duitser vir Tomas Etcheverry met 6-4, 3-6, 6-3 en 6-4 geklop het.

In die vroueafdeling het Iga Swiatek korte mette met Coco Gauff gemaak. Die eindtelling was 6-4 en 6-2 in die wêreld se voorste speler se guns.

Dan behoort Beatriz Haddad Maia vandag beslis voorbladnuus in São Paulo te wees.

Die 27-jarige speler het die eerste Brasiliaanse vrou in 55 jaar geword om na die halfeindstryd van ʼn Grand Slam-toernooi deur te dring toe sy vir Ons Jabeur met 3-6, 7-6 en 6-1 geklop het.

Uitslae:

Casper Ruud klop Holger Rune met 6-1, 6-2, 3-6 en 6-3

Alexander Zverev klop Tomas Etcheverry met 6-4, 3-6, 6-3 en 6-4

Iga Swiatek klop Coco Gauff met 6-4 en 6-2

Beatriz Haddad Maia klop Ons Jabeur met 3-6, 7-6 en 6-1

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Haha!
Die opskrif net so goed, selfs beter as die tennis.
Die twee semi-finale gaan rillers wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.