Novak die topgekeurde speler op Wimbledon

Serwië se Novak Djokovic. (Foto: Will Oliver/Pool Photo via AP)

Ondanks die feit dat Novak Djokovic onlangs sy status as die wêreld se voorste manspeler aan Daniil Medvedev afgestaan het, sal hy steeds as die topgekeurde speler op Wimbledon afslaan.

Medvedev sal egter nie deel van die aksie wees nie omdat organiseerders van die ikoniese grasbaantoernooi besluit het om spelers van Rusland en Belarus se deelname te verbied.

Die ATP- en WTA-beheerliggaam het in reaksie hierop Wimbledon van sy toernooistatus gestroop en geen ranglyspunte sal dus op die spel wees nie. Dit beteken dat Djokovic dalk nog verder op die ranglys kan afsak, selfs al sou hy die toernooi wen.

Rafael Nadal is tweede gekeur en die Spanjaard sal oorgehaal wees om nóg ’n groot toernooi te wen, voetbesering en al.

Anders as in die Franse Ope waar die loting bepaal het dat Djokovic en Nadal reeds in die kwarteindstryd teen mekaar kragte gemeet het, sal die twee tennisreuse eers in die eindstryd op Wimbledon teen mekaar speel – as hulle so ver sou vorder.

Die belowende Carlos Alcaraz is vyfde gekeur.

Die jong ster het al vantevore gesê dat ’n groot titel binne sy bereik is.

“Ek sal beter moet speel, maar ek dink nie ek is te ver van ’n Grand Slam-halfeindstryd of -titel nie. Ek het beslis die selfvertroue en vermoë om dit te bereik,” het die 19-jarige speler gesê.

In die vroueafdeling is Iga Swiatek (Franse Ope-wenner) die topgekeurde speler, terwyl Brittanje se Emma Raducanu tiende gekeur is.

  • Wimbledon se topgekeurde spelers:

Mans:

  1. Novak Djokovic
  2. Rafael Nadal
  3. Casper Ruud
  4. Stefanos Tsitsipas
  5. Carlos Alcaraz
  6. Felix Auger-Aliassime
  7. Hubert Hurkacz
  8. Matteo Berrettini
  9. Cameron Norrie
  10. Jannik Sinner

Vroue:

  1. Iga Swiatek
  2. Anett Kontaveit
  3. Ons Jabeur
  4. Paula Badosa
  5. Maria Sakkari
  6. Karolina Pliskova
  7. Danielle Collins
  8. Jessica Pegula
  9. Garbine Muguruza
  10. Emma Raducanu

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.