Novak en afrigter se paadjies skei

Novak Djokovic. Foto: Twitter.

Novak Djokovic is nie altyd die gewildste speler onder tennisliefhebbers nie, maar hy kan altyd op die ondersteuning van sy afrigterspan reken.

Tog word nou berig dat die Serwiese ster se paadjies met Marian Vajda geskei het; die afrigter wat in sy hoek met elk van sy 20 Grand Slam-titels was.

Sedert Djokovic vir Goran Ivanisevic as afrigter nadergetrek het, het Vajda weliswaar ’n minder prominente rol begin speel. Die 56-jarige Slowaak was egter sedert 2006 deel van die tennisspeler se suksesverhaal.

“Marian was daar met van die belangrikste en onvergeetlikste oomblikke van my loopbaan. Saam het ons ongelooflike dinge bereik en ek is baie dankbaar vir sy vriendskap en toewyding oor die afgelope 15 jaar,” het Djokovic gesê.

“Hy mag dalk nie meer deel van my professionele span wees nie, maar hy is soos familie en ek kan nie genoeg vir hom dankie sê nie.”

Op sy beurt is Vajda trots op Djokovic se uitstekende vordering as speler.

“Ek het die voorreg gehad om eerstehands te ervaar hoe Novak as speler gegroei het. Ek is trots op ons tyd saam en baie dankbaar om deel van sy sukses te wees,” het Vajda gesê.

Daniil Medvedev het Maandag vir Djokovic ná 361 weke (’n rekord) as die wêreld se voorste manstennisspeler onttroon.

Die Serwiese speler se inentingstatus beteken ook dat hy verskeie groot toernooie – waaronder Indian Wells en die Miami-ope – kan misloop.

“Ek sal egter Novak se grootste ondersteuner op en langs die baan bly,” het Vajda onderneem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

kolonel ·

Hoe gaan ons ooit regtig weet Pierre? Soveel om te weet en so min tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.