Novak gee homself ʼn rede om te glo

Novak Djokovic laat waai in Melbourne. Foto: Twitter.

Ná gister se vierderonde-aksie in Melbourne het tennisliefhebbers ʼn bevestiging gekry van iets wat hulle eintlik lankal reeds weet: Selfs al sukkel Novak Djokovic met ʼn besering is hy steeds beter as die meeste ander spelers.

Die Serwiese ster het korte mette met Alex de Minaur gemaak om die wedstryd met 6-2, 6-1 en 6-2 te beklink. Hy het 91 punte teenoor die 59 van die Aussie gewen en boonop deur die loop van die kragmeting nege potte op ʼn streep gewen.

“ʼn Week gelede het ek nie rêrig aan die titel gedink nie; ek het maar net probeer om op die volgende wedstryd te konsentreer. Alles het egter nou verander. Die manier waarop ek gespeel het, het vir my ʼn rede gegee om te glo dat ek dinge verder kan voer,” het Djokovic gesê.

Die 35-jarige speler het las van ʼn dyspierbesering, maar hy het só goed gespeel dat De Minaur bra skepties oor die omvang van die besering was.

“Hoe het hy vir julle gelyk? Ek het gedink hy was baie beweeglik op die baan; dus weet ek nie eintlik nie. Hy is beslis bitter naby om op alle suiers te vuur,” het die Australiese speler gesê.

Djokovic is die enigste oorblywende speler in die titelwedloop wat al vantevore in ʼn Grand Slam-toernooi koning gekraai het.

“Ek dink nie eintlik dit gaan veel van ʼn verskil maak nie,” het die Serwiër gesê. “Die jonger ouens is honger om te wen en enigiets is moontlik op ʼn tennisbaan.”

Uitslae:

Novak Djokovic klop Alex de Minaur met 6-2, 6-1 en 6-2

Tommy Paul klop Roberto Bautista Agut met 6-2, 4-6, 6-2 en 7-5

Andrey Rublev klop Holger Rune met 6-3, 3-6, 6-3, 4-6 en 7-6

Ben Shelton klop JJ Wolff met 6-7, 6-2, 6-7, 7-6 en 6-2

Karolina Pliskova klop Zhang Shuai met 6-0 en 6-4

Magda Linette klop Caroline Garcia met 7-6 en 6-4

Aryna Sabalenka klop Belinda Bencic met 7-5 en 6-2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Net jammer hy kan nie by die reels van die spel hou nie, word gecoach ander kant met briefies. Geen respek vir enige iemand behalwe homself nie, Novak leef vir Novak.

Treurwilger ·

Kuikenmoord.
Kishou op kishou, namens ondersteuners teen die ganse Australië.
Go, Novak!

George ·

Dat hy altyd met n “besering” speel vir bietjie meer aftyd en coach tyd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.