Novak-kishou knak Karatsev

Novak Djokovic vier sy oorwinning in die halfeindstryd van die Australiese Ope. Foto: David Gray/AFP.

Aslan Karatsev is ’n baie goeie tennisspeler. Die jong Rus het onder meer reeds met Diego Schwartzman en Gregor Dimitrov in Melbourne afgereken.

Goeiste, iemand soos Daniil Medvedev het selfs tydens ’n spankompetisie gesê dat hy Rusland se geheime wapen is.

Maar Novak Djokovic was vandag net beter as hy in die halfeindstryd van die Australiese Ope.

Die 33-jarige Serwiër se negende Australiese Ope-titel is nou binne sy bereik nadat hy die kragmeting met 6-3, 6-4 en 6-2 gewen het.

Karatsev het egter nie dinge vir hom maklik gemaak nie.

Die 27-jarige inwoner van Moskou het op die baan rondgeskarrel en met ’n paar merkwaardige houe vorendag gekom. Een van die heen-en-weer-slaansessies het vir 32 houe in die tweede stel aangehou.

Tog was dit Djokovic wat daardie stel met ’n klipharde kreet beklink het. Kort daarna het twee agtereenvolgende kishoue die wedstryd vir hom beklink.

Om een of ander rede is die Serwiër glad nie gewild onder tennisondersteuners nie. Hy het al vantevore gesê dat hy die skare se vyandigheid nie altyd verstaan nie – hy speel dan immers goeie tennis.

Ja, hy sal waarskynlik nooit so geliefd soos ’n Rafael Nadal of ’n Roger Federer wees nie. Maar hul rekord van 20 Grand Slam-titels is binne sy bereik.

Indien hy die naweek met die louere wegstap, sal Novak Djokovic 18 Grand Slam-titels agter sy naam hê. Daarbenewens is hy jonger as daardie twee sterre én hy is honger vir sukses.

Selfs al is hy nie so gewild nie, kan niemand sy sukses op ’n tennisbaan betwis nie.

Hy sal Sondag teen die wenner van die tweede halfeindstryd tussen Stefanos Tsitsipas en Medvedev te staan kom.

Die Griek het in die verlede gesê dat Medvedev vervelige tennis speel, maar hy het intussen van deuntjie verander.

“Hy speel ongelooflik slim en soek altyd na ’n manier om jou te uitoorlê. Ek moet versigtig wees en my kanse met albei hande aangryp,” het Tsitsipas op die vooraand van hul wedstryd gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.