Novak nou gelyk met Steffi

Novak Djokovic. Foto Marco Bertorello/AFP.

Tennisrekords en Novak Djokovic is soos braaibroodjies en blatjang – dit werk net goed saam.

Die 35-jarige Serwiër het nou Steffi Graf se rekord vir die meeste weke as die wêreldno. 1-speler geëwenaar nadat sy 377ste week as die wêreld se voorste raketswaaier begin het.

Graf het 22 Grand Slam-titels in haar roemryke loopbaan ingeoes en sy het onder meer sewe keer met die louere op Wimbledon weggestap.

Die rekord kan egter op 27 Februarie amptelik agter Djokovic se naam staan wanneer hy vir die 378ste week die wêreld se beste manspeler is. Hy het tans 590 punte meer as Carlos Alcaraz op die ATP-ranglys.

Die Serwiër het ná sy Grand Slam-oorwinning in Melbourne gesê dat die ambisievuur nog lank nie geblus is nie.

“Ek wil nog soveel as moontlik Slams wen. In hierdie stadium van my loopbaan is trofees my grootste motivering om aan te hou speel en ek is nog baie gemotiveerd. Ek weet as ek goed voel – fisiek sowel as geestelik – ek nog ʼn goeie kans staan om enigiemand op die tennisbaan te klop.”

Hy is van Maandag weer in aksie by die Dubai Duty Free-kampioenskap.

  • Meeste weke as die wêreldno. 1-speler:
  1. Novak Djokovic en Steffi Graf: 377 weke
  2. Martina Navratilova: 332 weke
  3. Serena Williams: 319 weke
  4. Roger Federer: 310 weke
  • Meeste agtereenvolgende weke as die wêreldno. 1-speler:
  1. Roger Federer: 237 weke
  2. Steffi Graf en Serena Williams: 186 weke
  3. Jimmy Connors: 160 weke
  4. Ivan Lendl: 157 weke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

en Steffi kon dit doen sonder n gekla en n gekerm en “beserings” om ekstra tyd te kry om te rus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.