Novak nou oudste no. 1-speler nóg

Serwië se Novak Djokovic. (Foto: Andrei Isakovic/AFP)

Novak Djokovic blaas eers volgende maand 37 kersies op sy verjaardagkoek dood, maar hy het Sondag reeds ʼn geskenk gekry.

Die Serwiese tennisster het nóg ʼn tennisrekord verbeter toe hy die oudste enkelspelspeler geword het om die eerste plek op die amptelike ATP-ranglys te beklee.

Dit het sedert 2018 agter Roger Federer se naam gestaan, maar Djokovic – vandag 36 jaar en 323 dae oud – swaai nou alleen die tennissepter.

Hy is nou al vir altesaam 420 weke die wêreld se voorste speler en ondanks ʼn paar spoedhobbels in die laaste paar toernooie, lyk dit nie of hy van plan is om binnekort sy raket weg te bêre nie.

Djokovic is steeds goed genoeg om Grand Slam-titels in te oes en slaan die week by die Monte Carlo-meesterstoernooi af – ʼn kleitennisskouspel wat hy reeds twee keer vantevore in sy roemryke loopbaan gewen het.

Hy het al vantevore gesê dat sy tweestryde teen jonger spelers vir bykomende woema sorg.

“Hulle is honger vir sukses en hulle wil hul beste tennis teen my speel. Nou ja, dit motiveer my ook om op my beste te wees. Hulle het beslis vir my nuwe vuur en passie gegee,” het Djokovic gesê.

Deur die jare het die Serwiër ook al ʼn meester van sielkundige oorlogvoering op die baan geword.

“Daar is geen fisieke kontak in ʼn tenniswedstryd nie, maar daar is beslis oogkontak. Wanneer ons kante ruil, of wanneer ons ʼn vinnige blaaskans neem, hou ek my teenstander goed dop. Hoe drink hy sy water, sweet hy ʼn bietjie meer as normaalweg? Haal hy diep asem of nie? Alles het uiteindelik ʼn invloed op die wedstryd.”

Volgens Djokovic verwelkom hy emosie op die baan.

“Ek mag dalk gefokus lyk, maar soms woed daar ʼn storm binne my. Wanneer die emosiepot dreig om oor te kook, aanvaar ek dit doodeenvoudig net. Ek mag dalk op die baan skree, maar sodra ek uiting aan my frustrasie gegee het, kan ek die herstelknoppie druk en terugveg.”

ATP-ranglys:

  1. Novak Djokovic: 36 jaar oud
  2. Jannik Sinner: 22 jaar oud
  3. Carlos Alcaraz: 20 jaar oud
  4. Daniil Medvedev: 28 jaar oud
  5. Alexander Zverev: 26 jaar oud
  6. Andrey Rublev: 26 jaar oud
  7. Holger Rune: 20 jaar oud
  8. Hubert Hurkacz: 27 jaar oud
  9. Grigor Dimitrov: 32 jaar oud
  10. Casper Ruud: 25 jaar oud

Monte Carlo-uitslae:

Ugo Humbert klop Federico Coria met 4-6, 6-1 en 6-2

Karen Khachanov klop Cameron Norrie met 7-5 en 7-6

Grigor Dimitrov klop Valentin Vacherot met 7-5 en 6-2

Francisco Cerundolo klop Daniel Altmaier met 6-2 en 7-6

Felix Auger-Aliassime klop Luca Nardi met 6-2 en 6-3

Sebastian Ofner klop Dan Evans met 6-1 en 6-4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miskruier ·

Gelukkig het hy sy eie kop gevolg en nie n skielike dood gehad nie.

JD ·

Nie net sy eie kop nie, maar ook net sy gesonde verstand gebruik.
Darm maar vreemd dat gesonde jong atlete so skieliek en “onverklaarbaar” omkap deesdae.
Wat op aarde kan dit veroorsaak?
Reuse raaisel…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.