Novak onseker oor afrigterspad

Novak Djokovic. (Foto: Julien de Rosa/AFP)

Daar was ʼn tyd wat die Novak Djokovic/Goran Ivanisevic-kombinasie so te sê onstuitbaar was. Die titels het links en regs ingerol en selfs gedurende die inentingsdrama van die Covid-19-tydperk het die Kroaat bankvas agter die Serwiese ster gestaan.

Maar die vennootskap van vyf jaar het vroeër die week tot ʼn einde gekom toe die wêreld se voorste speler op sosiale media gedeel het dat sy tennispaadjie met Ivanisevic geskei het.

Djokovic wou in 2018 meer aandag aan sy afslane gee en hy het die oudspeler nadergetrek om hom by te staan. Ivanisevic was in sy speeldae bekend vir sy kishoukartetse.

“Ons het met tye ʼn wisselvallige verstandhouding op die baan geniet, maar ons vriendskap was altyd rotsvas. Dankie vir alles,” het die 36-jarige speler op Instagram gedeel.

Djokovic het 12 van sy 24 Grand Slam-titels onder Ivanisevic se toesig gewen, maar hy geniet nie die beste aanloop tot 2024 nie.

Hy het teen die veel jonger Jannik Sinner in die halfeindstryd van die Australiese Ope vasgeval, terwyl hy later deur Luca Nardi in die derde ronde van die Indian Wells-toernooi uitgeskakel is.

Dit het hom genoop om aan die Miami-ope te onttrek en hy behoort weer volgende maand by die meesterstoernooi in Monte Carlo af te slaan, terwyl die Franse Ope ook in Parys wink.

“Ek het nog nie duidelikheid oor wie my volgende afrigter gaan wees en selfs of ek weer een gaan aanstel nie,” het Djokovic aan joernaliste in Belgrado gesê.

“Sedert ʼn jong ouderdom was daar nog altyd afrigters in my hoek en ek probeer tans uitpluis wat vir my werk of nie.”

Ondanks die leë 2024-trofeekas meen Rafael Nadal dat Djokovic die beste speler nóg is.

“Die beeld wat Novak uitstraal, vertel nie altyd die volle verhaal nie. Ek dink hy is ʼn goeie mens,” het die hotklou-speler in ʼn onderhoud met ʼn Spaanse koerant gesê.

“Daar is oomblikke waar die frustrasiepot dreig om oor te kook. Hy sal byvoorbeeld sy raket stukkend slaan, maar die volgende oomblik is hy weer 100% gereed vir aksie. Dit is die beste wat ek nóg gesien het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.