Novak onttroon die koning van klei

Novak Djokovic vier die oorwinning teen Rafael Nadal op Roland Garros (11 Junie 2021) (Foto: Martin Bureau/AFP)

Wat kry jy as jy die flair van twee Nieu-Seelandse rugbyspanne wat teen mekaar speel met die natuurlike talent van AB de Villiers en die opwinding van ’n Usain Bolt-wedloop met mekaar kombineer?

Jip, jy het reggeraai: Novak Djokovic teen Rafael Nadal op die tennisbaan. En soos oudergewoonte het die twee supersterre van wêreldtennis nie in Vrydagaand se halfeindstryd van die Franse Ope op Roland Garros teleurgestel nie.

In die een hoek het jy vir Nadal; ongetwyfeld die koning van kleibane en die man wat so te sê onstuitbaar op sy geliefde Roland Garros is. ’n Veertiende Franse Ope-titel was binne sy bereik en nadat hy verlede jaar die eindstryd verspotmaklik gewen het, het hy ook ’n sielkundige houvas op Djokovic gehad.

En in die ander hoek is Djokovic; die wêreld se voorste tennisspeler. Hy is soms ongeliefd maar sy missie is doodeenvoudig: Hy wil eendag die tennisspeler met die meeste Grand Slam-titels agter sy naam wees.

Ná vier aksiebelaaide stelle in Parys is hy nou ’n treetjie nader om sy 19de groot titel in te oes. Want hy het immers die kragmeting met 3-6, 6-3, 7-6 en 6-2 gewen om die koning van klei van sy Franse troon af te stamp.

Dit was slegs Nadal se derde nederlaag in 16 jaar op Roland Garros – séstien jaar!

“Dit is die grootste voorreg om teen Rafa hier te speel. Vanaand was my beste vertoning ooit op Roland Garros,” het Djokovic gesê. “Elke keer wanneer jy teen hom speel, weet jy dat jy Everest sal moet uitklim om uiteindelik met die louere weg te stap. ’n Mens sukkel om woorde te vind om sy vertonings in Parys te beskryf.”

Rafael Nadal groet die toeskouers op Roland Garros (11 Junie 2021) (Foto: Martin Bureau/AFP)

Die Serwiese ster kan veral trots wees op die wyse waarop hy teruggeveg het – die Spanjaard het in ’n stadium met 5-0 in die eerste stel voorgeloop en mense het gevrees dat dit ’n herhaling van verlede jaar se eindstryd gaan wees.

Maar Djokovic het eers drie potte in die eerste stel gewen, waarna hy in drie agtereenvolgende koning gekraai het.

Die 35-jarige Nadal is al oud en wys genoeg om teleurstelling te hanteer.

“Ek is natuurlik hartseer om in my belangrikste toernooi van die jaar te vas te val, maar die lewe gaan voort. As ’n mens mooi daaroor dink, is dit eintlik net ’n nederlaag op ’n tennisbaan,” het Nadal gesê. “As alles volgens plan verloop, hoop ek om môre saam met my familie en vriende by die huis te wees. Maar volgende jaar is ek terug. En as die Here wil – met die nodige selfvertroue en werksetiek om vir myself nog ’n kans te gee om die toernooi te wen.”

Djokovic speel in Sondag se eindstryd teen Stefanos Tsitsipas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.