Novak op voorvoet in New York

Novak Djokovic. (Foto: Kena Betancur/AFP)

Novak Djokovic het korte mette met Bernabe Miralles in die Amerikaanse Ope gemaak. Die Serwiër het die kragmeting met 6-4, 6-1 en 6-1 gewen en hy het nog net 11 potte in sy twee wedstryde in New York afgestaan.

“Hy het ʼn stewige aanloop tot die wedstryd geniet en daar was aanvanklik ʼn paar goeie sarsies gewees,” het Djokovic gesê.

Hy het egter kort voor lank sy man teen Miralles se afslane gestaan en daarna was dit eenrigtingverkeer.

Djokovic sal in die volgende ronde teen sy landgenoot Laslo Djere te staan kom.

“Laslo speel tans goeie tennis en dit is baie goed vir die spel in Serwië dat ons in die derde ronde teen mekaar sal kragte meet. Een Serwiese speler sal dus definitief in die vierde ronde wees!” het hy geskerts.

In ander kragmetings het Stefanos Tsitsipas en Casper Ruud die onderspit teen Dominic Stricker en Zhang Zhizhen gedelf.

Intussen maak Lloyd Harris ook gereed vir sy kragmeting teen Carlos Alcaraz op die Arthur Ashe-baan.

Die Suid-Afrikaner het ʼn rits kishoue in sy wedstryd teen Guido Pella afgevuur en hy sal ongetwyfeld op sy heel beste moet wees as hy enigsins ʼn kans teen die vurige Spanjaard wil staan.

Uitslae:

Dominic Stricker klop Stefanos Tsitsipas met 7-5, 6-7, 6-7, 7-6 en 6-3

Aslan Karatsev klop Roberto Carballes Baena met 6-2, 4-6, 6-3 en 7-6

Novak Djokovic klop Bernabe Miralles met 6-4, 6-1 en 6-1

Tommy Paul klop Roman Safiullin met 3-6, 2-6, 6-2, 6-4 en 6-3

Taylor Fritz klop Juan Pablo Varillas met 6-1, 6-2 en 6-2

Frances Tiafoe klop Sebastian Ofner met 6-3, 6-1 en 6-4

Zhang Zhizhen klop Casper Ruud met 6-4, 5-7, 6-2, 0-6 en 6-2

Caroline Wozniacki klop Petra Kvitova met 7-5 en 7-6

Zhu Lin klop Victoria Azarenka met 6-3 en 6-3

Iga Swiatek klop Daria Saville met 6-3 en 6-4

Karolina Muchova klop Magdalena Frech met 6-3 en 6-3

Coco Gauff klop Mirra Andreeva met 6-3 en 6-2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.