Novak sal nooit so gewild soos Roger en Rafa wees nie

Novak Djokovic en Roger Federer. Foto: David Gray/AFP.

Dit is bloot net ’n kwessie van tyd voordat Novak Djokovic sy 21ste Grand Slam-titel inoes om vir Roger Federer en Rafael Nadal verby te steek. Maar ten spyte van sy sukses op die baan is die 34-jarige Serwiër hoegenaamd nie bekend vir sy gewildheid onder die meerderheid tennisliefhebbers nie.

“Ek ondersteun enigiemand wat teen Novak speel,” is ’n plakkaatslagspreuk wat ’n mens eintlik half verwag om by sy wedstryde te sien.

Djokovic het self vroeër gesê dat dit vir hom voel asof hy nie net sy teenstanders moet tem nie, maar ook vir die toeskouers ’n ding of twee moet wys.

En volgens Justine Henin sal die wêreld se voorste manspeler in alle waarskynlikheid nooit so gewild soos Federer of Nadal wees nie.

“Of jy nou daarvan hou of nie, Novak sal seker nooit dieselfde heldestatus as Roger of Rafa geniet nie, maar dit is ’n feit dat hy verstommende vertonings op die tennisbaan kan lewer,” het die Belgiese tennisster gesê.

Volgens Henin maak Djokovic se heldedade in die Covid-19-era sy prestasies net soveel meer indrukwekkend.

Hy het vanjaar reeds met die louere by die Australiese Ope, die Franse Ope en Wimbledon weggestap. As hy die Amerikaanse Ope wen sal hy Rod Laver se unieke prestasie van 1969 ewenaar om al vier Grand Slam-toernooie in een jaar te wen.

“In hierdie onsekere tye moet jy geestelik baie sterk wees. Trouens, ek weet nie hoe ek as ’n speler hierdie situasie sou hanteer het nie,” het Henin gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jack Russ1 ·

Wel ek glo nie Novak speel tennis om gewild te word nie, hy speel om te die beste te wees

Chantel ·

Sê ek ook, dis dan sy beroep. Of werk die meeste mense om gewild te wees by die werk in pleks daarvan om ‘n salaris te verdien?

Moedeloos ·

Om eerlik te wees ek kyk nie eens hierdie jaar die Amerikaanse Ope nie en ek is mal oor my tennis.

pieter ·

Vra maar net. hoekom is dit n heldedaad om n toernooi te wen? Ek het geleer n heldedaad is om iemand van n gewisse dood te red.

Dirk Mostert ·

Dis onbillik. Ek het respek vir al drie as spelers en vir hul sportiewe gees.

Andries ·

Novak Djokovic die “Joker” is nog altyd ‘n toonbeeld van goeie sportmanskap. Hy het al ‘n reuse “dip” ook gevang in sy loopbaan en net aangehou. Nou is hy die beste. Jammer vir die wat nie van hom hou nie. Die ou gaan nog ‘n rukkie daar wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.