Novak se no. 1-status op die spel

Novak Djokovic het na die volgende ronde van die Italiaanse Ope deurgedring. Foto: Andreas Solaro/AFP.

Indien Novak Djokovic nie vir die halfeindstryd van die Italiaanse Ope kwalifiseer nie, kan hy sy status as die wêreld se voorste manstennisspeler verloor.

Tog het die Serwiese ster, wat binnekort sy 35ste verjaardag vier, sy Rome-veldtog op ’n wennoot begin toe hy Rusland se Aslan Karatsev met 6-3 en 6-2 geklop het.

Djokovic se inentingstatus het beteken dat hy vanjaar nog net by ’n paar toernooie in aksie was, terwyl hy ook teen Carlos Alcaraz in die halfeindstryd van die Madrid-ope vasgeval het.

Maar met die Franse Ope om die draai is hy beslis besig om sy voete op die kleibane te vind en hy het Karatsev omtrent laat bontstaan.

“Aslan is ’n baie sterk speler en ’n mens moet op jou hoede wees wanneer jy teen hom speel. Hy het egter ’n paar foute gemaak en ek kon hom onder druk plaas. Ek is baie tevrede met my vertoning en ek sien uit na die volgende uitdaging,” het Djokovic gesê.

Dit was die Serwiër se 60ste oorwinning in die Italiaanse hoofstad en hy was bly dat hy die toeskouers met goeie spel in tennis se eie Kolosseum kon vermaak.

“Ek probeer altyd om opwindende tennis te speel en dit is lekker wanneer die toeskouers saam gesels. Hulle is juis op soek na energie, opwinding en ’n vurige tweestryd; hulle is hier om goeie tennis te sien.”

  • Uitslae:

Casper Ruud klop Botic van de Zanschulp met 6-7, 6-2 en 6-4.

Jannik Sinner klop Pedro Martinez met 6-4 en 6-3.

Filip Krajinovic klop Andrey Rublev met 6-2 en 6-4.

Denis Shapovalov klop Nikoloz Basilashvili met 6-4 en 7-6.

Bianca Andreescu klop Emma Raducanu met 6-2 en 6-1.

Ekaterina Alexandrova klop Sloane Stephens met 6-1 en 6-2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Novak reeds die beste van alle tye.
Niks meer te bewys nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.