Novak sê ook nee vir Cincinnati

Novak Djokovic van Serwië. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Novak Djokovic sê hy sal ook nie deel van die aksie by die Western & Southern-ope in Cincinnati wees nie. Volgens die wêreld se voorste tennisspeler wil hy ’n blaaskans ná sy Olimpiese veldtog neem.

Sy besluit volg kort op die nuus dat Roger Federer hom aan die gewilde voorbereidingstoernooi vir die Amerikaanse Ope in New York onttrek het.

Djokovic se droom om al vier Grand Slam-titels én die Olimpiese Spele-uitdaging in een jaar te wen, is ’n gevoelige nekslag deur Alexander Zverev toegedien toe die jong Duitser die halfeindstryd in Tokio gewen het.

Sy Grand Slam-veldtog is egter steeds op koers en hy sal alles in die stryd werp om met die louere by die Amerikaanse Ope in New York weg te stap.

“Dit neem ’n bietjie langer om te herstel van die reis na Tokio en dit beteken dat ek ongelukkig nie deel van die aksie in Cincinnati sal wees nie,” het die verdedigende Western & Southern-kampioen gesê.

Indien die 34-jarige Serwiër ook die Amerikaanse Ope-trofee omhoog hou, sal hy die eerste manspeler sedert Rod Laver se heldedade van 1969 word om al vier Grand Slam-titels in een jaar te wen.

Djokovic se New Yorkse avontuur het egter verlede jaar op ’n omstrede wyse tot ’n einde gekom toe hy gediskwalifiseer is omdat hy ’n wedstrydbeampte raakgeslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elinette ·

Jammer om te sê, maar ek dink Novak is besig om staaaadigaan uit die tennis arena te verdwyn. Hy is ‘n fantastiese speler, maar dit wil my voorkom asof hy nou sy piek bereik het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.