Novak sê senuwees knaag steeds

Novak Djokovic is deur na die halfeindstryd van die Monte Carlo-meesterstoernooi. (Foto: Valery Hache/AFP)

Die tennisrekords bly net voor Novak Djokovic se aanslag val.

Die 36-jarige Serwiër is nie net die oudste wêreldnommereenspeler nóg nie, maar hy het ook vir sy 77ste ATP-meesterstoernooihalfeindstryd gekwalifiseer toe hy vir Alex de Minaur met 7-5 en 6-4 in Monte Carlo geklop het.

Natuurlik is dit óók ʼn rekord.

Maar ondanks sy sukses en ervaring erken hy dat die vlinders nog in sy maag rondfladder voor ʼn wedstryd.

“Ongeag van die feit dat ek al so baie wedstryde in my loopbaan gespeel het, knaag die senuwees steeds wanneer ek op die baan stap. Dit is van die mooi dinge van tennis – niemand weet wat volgende gaan gebeur of wie die wedstryd gaan wen nie.”

Djokovic speel in een van die halfeindstryde teen Casper Ruud, terwyl Jannik Sinner en Stefanos Tsitsipas reeds sake om ʼn plek in die eindstryd uitspook.

Hy besef egter dat hy sy sokkies teen Ruud sal moet optrek – hy het immers 26 ongedwonge foute teen De Minaur begaan.

“Ek en Alex het eintlik lelike tennis in die tweede stel opgedis, maar soms moet jy net diep delf om ʼn wedstryd te wen; soos wat dit nou die geval was.”

Djokovic is ʼn tweemalige kampioen in Monte Carlo, maar hy sukkel die afgelope ruk om vir die kwarteindstryd te vorder.

“Ek is mal oor die toernooi en oor Monte Carlo – ek oefen al vir baie jare hier. Ja, vir die laaste paar jaar het ek gesukkel om sewe of agt agtereenvolgende wedstryde te wen, maar ek is weer terug in die halfeindronde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.