Novak se Tokio-toertjies; Daniil se humiditeit-stryd

Novak Djokovic is op koers na ’n Olimpiese goue medalje. Foto: Twitter

So tussendeur strekoefeninge saam met België se gimnastiekspan en opgewonde ondersteuning vir sy Serwiese spanmaats is Novak Djokovic steeds ’n man met ’n doel; ’n einddoel wat met ’n goue Olimpiese medalje om sy nek eindig.

Die 34-jarige tennisster het so pas met Spanje se Alejandro Davidovich afgereken om na die kwarteindstryd van die Olimpiese Spele se enkelspelwedstryde deur te dring.

Die eindtelling was 6-3 en 6-1 in die Serwiër se guns en hy sal nou swaarde met Japan se Kei Nishikori in die kwarteindstryd kruis.

Djokovic is goed op dreef om Steffi Graf se rekord wat sy in 1988 opgestel het te ewenaar. Die Duitse speler het toe al vier Grand Slam-titels én die Olimpiese Spele in dieselfde jaar gewen.

Die grootste struikelblok in sy pad na Olimpiese glorie is Daniil Medvedev. Maar die Russiese speler sukkel met die Tokiose hitte en hy het in sy kragmeting teen Fabio Fognini (wat hy met 6-2, 3-6 en 6-2 gewen het) probleme met sy asemhaling ondervind.

Daniil Medvedev het probleme met sy asemhaling ondervind. Foto: Twitter.

“Ek sal die wedstryd kan voltooi, maar ek kan ook doodgaan. As dit sou gebeur, sal jy verantwoordelik wees daarvoor?” het Medvedev gesê nadat die skeidsregter hom gevra het of hy oukei is.

“Dit was die warmste dag nog en teen die einde van die tweede stel het ek donker kolle voor my oë begin sien en met my asemhaling gesukkel.”

Maar dit is te betwyfel of Djokovic deur die hitte van stryk gebring sal word.

Sy afgelope sukses op Wimbledon was sy 20ste Grand Slam-titel en sy afrigter, Goran Ivanisevic, het ander spelers gewaarsku dat die Serwiër nog baie ambisie-petrol in die tenk oorhet.

“Novak is soos die aksiehelde in die flieks. Maak nie saak hoeveel keer hy geskiet word nie, hy staan net elke keer op. Daar is elke dag iets nuuts; elke dag iets beters. Hy gaan nie ophou nie. Hy wil nie ophou nie,” het die Kroaat gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.