Novak slaan op wennoot in Rome af

Novak Djokovic het sy eerste wedstryd in Rome gewen. (Foto: Filippo Monteforte/AFP)

Novak Djokovic het ʼn stewige vertoning in sy eerste wedstryd sedert die halfeindstryd van die Monte Carlo-ope gelewer toe hy vir Corentin Moutet met 6-3 en 6-1 in Rome geklop het.

Dit het die wêreld se voorste speler net meer as 80 minute geneem om sy openingskragmeting van die Italiaanse Ope te beklink.

Volgens die Serwiër was dit aanvanklik ʼn bietjie moeilik om aan die linkshandige Moutet se spel gewoond te raak.

“Ek het lanklaas teen ʼn linkshandige speler geoefen en die eerste vier potte van die eerste stel was ietwat van ʼn nagmerrie vir my. Ek het sommer ʼn paar van my afslaanpotte verloor,” het Djokovic gesê.

Maar hy het nie verniet 24 Grand Slam-titels agter sy naam nie en hy weet presies hoe om tenniswedstryde te wen.

“Ek kon egter my voete vind en daarna het ek net een pot verloor nadat ek ʼn agterstand van 1-3 moes inhaal. Jy kan nie bekostig om konsentrasie teen ʼn talentvolle speler soos Corentin te verloor nie en in die geheel is ek tevrede met my vertoning.”

Djokovic speel in die volgende ronde teen Alejandro Tabilo van Chili.

Alle oë sal egter vandag op die Foro Italico in die Italiaanse hoofstad weens wanneer Rafael Nadal met Hurbert Hurkacz rakette kruis.

Die 37-jarige Spanjaard het in aanloop tot die kragmeting gesê dat hy weer sal moet leer om risiko’s op die baan te neem.

“En as dinge nie heeltemal uitwerk soos wat dit moet nie, moet ek dit aanvaar. Die tyd is ryp om my beste te gee; ek voel meer gereed as ooit om dit te doen,” het Nadal gesê.

Uitslae:

Novak Djokovic klop Corentin Moutet met 6-3 en 6-1

Miomir Kecmanovic klop Casper Ruud met 0-6, 6-4 en 6-4

Taylor Fritz klop Fabio Fognini met 6-3 en 6-4

Francesco Passaro klop Tallon Griekspoor met 4-6, 6-3 en 7-6

Ben Shelton klop Pavel Kotov met 4-6, 6-3 en 6-4

Grigor Dimitrov klop Yoshihito Nishioka met 7-5 en 6-4

Mayar Sherif klop Jasmine Paolini met 7-6, 2-6 en 6-4

Aryna Sabalenka klop Katie Volynets met 4-6, 6-3 en 6-2

Jelena Ostapenko klop Anastasia Potapova met 6-4 en 6-2

Maria Sakkari klop Varvara Gracheva met 6-2 en 6-2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.