Novak steeds die beste ter wêreld

Novak Djokovic en Roger Federer. Foto: David Gray/AFP.

Volgens die jongste ATP-ranglys is Novak Djokovic steeds die wêreld se voorste tennisspeler.

Die 34-jarige Serwiër moes toekyk hoe Rafael Nadal die afgelope naweek die voortou in die Grand Slam-resies neem toe hy sy 21ste titel in Australië gewen het.

Die vurige Spanjaard is egter steeds vyfde op die ranglys.

Daniil Medvedev, wat in die eindstryd teen Nadal gespeel het, is nou minder as 1 000 punte (11 015 teenoor 10 125) agter Djokovic op die punteleer.

Dan begin Roger Federer se operasies hom ook op die ranglys kniehalter. Die 40-jarige Switserse meester was laas op Wimbledon in aksie waar hy in die kwarteindstryd deur Hubert Hurkacz uitgeskakel is.

Boris Becker, ’n voormalige wêreldno. 1-speler, meen dat Federer se gloriedae iets van die verlede is.

“Die groot vraag is of hy weer aan toernooie sal kan deelneem; ek dink net hy kan daardie vraag beantwoord. Die res van sy lewe lê nog voor en tennis is eintlik amper ’n bysaak. Hy het al soveel titels gewen en hy hoef niks meer aan enigiemand te bewys nie,” het Becker gesê.

Tog glo Ivan Ljubicic dat Federer steeds die begeerte het om groot toernooie te wen.

“Soos wat ek vir Roger ken, sal hy op sy beste wil wees en speel om te wen. Hy sal egter dinge stap vir stap wil benader – hy is 40 jaar oud en hy moet geduldig wees.”

Lloyd Harris (34ste) is Suid-Afrika se voorste speler, terwyl Kevin Anderson (99ste) ook nog onder die top 100 tel.

ATP-ranglys soos op 31 Januarie 2022:

  1. Novak Djokovic
  2. Daniil Medvedev
  3. Alexander Zverev
  4. Stefanos Tsitsipas
  5. Rafael Nadal
  6. Matteo Berrettini
  7. Andrey Rublev
  8. Casper Ruud
  9. Felix Auger-Aliassime
  10. Jannik Sinner

Ander spelers van belang:

Roger Federer (30ste), Lloyd Harris (34ste), Dominic Thiem (37ste) en Kevin Anderson (99ste).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Om op 40-jarige ouderdom teen die jonger manne deel te neem is nie maklik nie. Ek dink ook Federer moet maar opppak, hy het sy innings gehad. Die gevaar is dat hy waarskynlik sy reputasie gaan skade aandoen deur verder te speel.

Jean ·

Lloyd Harris van Suid Afrika is 24 jaar oud en hy is 34ste op die lys, moet hy ook maar oppak? Federer doen nog goed, en ek glo hy verdien nog ‘n paar rand ook al is hy 30ste.

George ·

Federer is vir my soos Schumaker, al is daar ander wat beter presteer het, sal hulle vir my die beste van alle tye bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.