Novak steeds die wêreld se beste

Novak Djokovic sal vir die 13de keer in die halfeindstryd van die Italiaanse Ope speel. Foto: Twitter.

Die eerste doelwit van Novak Djokovic se Rome-missie is bereik: Hy is steeds die wêreld se voorste manstennisspeler nadat hy met Felix Auger-Aliassime in die kwarteindstryd van die Italiaanse Ope afgereken het.

Die 34-jarige Serwiër het die jong Kanadees met 7-5 en 7-6 geklop om nie net sy posisie op die ATP-ranglys te verstewig nie, maar ook om sy plek in die halfeindstryd teen Casper Ruud te verseker.

“Dit was topgehalte-tennis; wanneer ’n mens teen iemand soos Felix speel, moet jy ongetwyfeld met goeie tennis vorendag kom. Ek het in ’n stadium gedink dat die wedstryd gouer verby sou wees, maar hy het nooit moed opgegee nie. Terselfdertyd was die atmosfeer hier in Rome weer eens ’n treffer,” het Djokovic gesê.

Die Serwiër se sending is egter nog nie verby nie: Hy sal sy 1 000ste oorwinning vier as hy later vandag vir Ruud kan klop, terwyl ’n 38ste ATP-titel ook in sy visier is.

“Casper is ’n spesialis op kleibane en hy is ’n baie aangename mens. Ons oefen baie saam en kom goed oor die weg. In die halfeindstryd sal ons egter al twee speel om te wen; hopelik kan ek op my jongste vertoning voortbou.”

In die ander halfeindstryd kom Stefanos Tsitsipas teen Alexander Zverev te staan. In die vroueafdeling het Iga Swiatek reeds haar plek in die eindstryd verseker toe sy verspot maklik met Aryna Sabalenka klaargespeel het.

  • Uitslae:

Novak Djokovic klop Felix Auger-Aliassime met 7-5 en 7-6 (kwarteindstryd).

Casper Ruud klop Denis Shapovalov met 7-6 en 7-5 (kwarteindstryd).

Stefanos Tsitsipas klop Jannik Sinner met 7-6 en 6-2 (kwarteindstryd).

Alexander Zverev klop Cristian Garin met 7-5 en 6-2 (kwarteindstryd).

Iga Swiatek klop Aryna Sabalenka met 6-2 en 6-1 (halfeindstryd).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.