Novak steek Serena verby

Novak Djokovic. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Serwië se Novak Djokovic is nou al vir 320 weke van sy loopbaan die voorste manspeler op die internasionale tennisverhoog.

En hoewel hy nog ’n entjie weg van Steffi Graf se rekord van 377 weke is, het hy vandeesweek vir Serena Williams verbygesteek om nou derde op die lys van spelers te wees wat vir die meeste weke die septer as die wêreld se beste op die internasionale verhoog geswaai het.

Indien daar geen groot opskuddings is nie, behoort hy ook op 9 Augustus 2021 vir Martina Navratilova uit die tweede plek te lig.

Volgens Duitsland se Alexander Zverev, wat die afgelope naweek met die louere by die Madrid-ope weggestap het, sal die Djokovic-wegholtrein nie binnekort tot stilstand gebring word nie.

“Hy is steeds honger vir sukses en vasbeslote om nog baie rekords agter sy naam te skryf. Ek dink nie hy gaan ophou totdat hy almal verbeter het nie,” het die jong Duitser gesê.

  • Meeste weke as die wêreld se voorste tennisspeler (mans en vroue):
  1. Steffi Graf 377 weke
  2. Martina Navratilova 332 weke
  3. Novak Djokovic 320 weke
  4. Serena Williams 319 weke
  5. Roger Federer 310 weke
  6. Pete Sampras 286 weke
  7. Ivan Lendl 270 weke
  8. Jimmy Connors 268 weke
  9. Chris Evert 260 weke
  10. Rafael Nadal en Martina Hingis 209 weke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.