Novak-temmer maak lekker ranglyssprong

Luca Nardi het vir Novak Djokovic in Kalifornië uitgeskakel. (Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP)

Luca Nardi, die 20-jarige Italianer wat Novak Djokovic se doppie vroeg in die Indian Wells-toernooi geklink het, tel nou onder die voorste 100 spelers ter wêreld vir die eerste keer in sy loopbaan.

Nardi het die 36-jarige wenner van 24 Grand Slam-titels met 6-4, 3-6 en 6-3 geklop in ʼn wedstryd wat hy as die grootste nóg van sy jong loopbaan beskryf het.

“Vóór vanaand het niemand waarskynlik geweet wie ek is nie. Ek hoop die toeskouers het ook die wedstryd geniet; ek is ongelooflik tevrede met dié oorwinning,” het hy destyds gesê.

Nardi is nou 96ste op die amptelike ATP-ranglys nadat hy ook met Zhang Zhizen in Kalifornië klaargespeel het.

Dan is Carlos Alcaraz steeds die naasbeste speler ter wêreld, maar hy moes ʼn kwaai ranglysaanslag van Jannik Sinner afweer.

Die Spanjaard het sy halfeindstrydontmoeting teen die Italianer gewen om uiteindelik met die Indian Wells-louere weg te stap.

Indien Sinner hul uitklopwedstryd gewen het, sou hy ʼn puntevoorsprong bó Alcaraz geniet het.

ATP-ranglys:

  1. Novak Djokovic: 9 725 punte
  2. Carlos Alcaraz: 8 805 punte
  3. Jannik Sinner: 8 310 punte
  4. Daniil Medvedev: 7 765 punte
  5. Alexander Zverev 5 060 punte
  6. Andrey Rublev: 4 970 punte
  7. Holger Rune: 3 875 punte
  8. Casper Ruud: 3 560 punte
  9. Hubert Hurkacz: 3 370 punte
  10. Alex de Minaur: 3 300 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.