Novak veg voort ondanks besering

Novak Djokovic is vir die 15de keer in sy loopbaan deur na die vierde ronde van die Australiese Ope. Foto: Twitter.

Novak Djokovic is op koers om sy tiende Australiese Ope-titel in te oes nadat hy vir Grigor Dimitrov met 7-6, 6-3 en 6-4 geklop het.

Tog sukkel die 35-jarige Serwiese ster met ʼn seer dyspier en dit het veral ʼn invloed op sy beweeglikheid op die baan. Hy het weer eens mediese behandeling in sy jongste wedstryd ontvang.

“Ek voel heel oukei in die aanloop tot ʼn wedstryd, maar dinge raak erger sodra ek vir ʼn rukkie beweeg het. Soms werk die pynpille en die behandeling; ander kere weer glad nie. Dit is omtrent vir jou ʼn tuimeltreinrit,” het Djokovic gesê.

Volgens die voormalige wêreldnommereenspeler maak die besering omtrent dinge vir hom moeilik: Hy moet nou nie net op sy teenstander konsentreer nie, maar ook sy bes doen om die beseerde been nie te ooreis nie.

“Fisiek was dit ʼn uitdaging, maar ek het ʼn manier gevind om hierdie opwindende wedstryd te wen. Ek is net dankbaar dat ek die kragmeting in drie stelle kon beklink; as ek een stel afgestaan het, sou die wedstryd vir wie weet hoe lank aangehou het. Daar was juis al ʼn paar wedstryde van vyf uur in die toernooi en hierdie een kon dalk op ʼn soortgelyke pad afgestuur het.”

Djokovic sal teen Australië se Alex de Minaur in die volgende ronde te staan kom.

Wêreld se voorste vrouespeler delf die onderspit

Intussen het die wêreld se nommereenvrouespeler, Pole se Iga Swiatek, met 6-4 en 6-4 teen Elena Rybakina verloor.

Swiatek se nederlaag beteken dat die jongste Australiese Ope-toernooi die eerste Grand Slam in die geskiedenis van die Ope-era is waar die topgekeurde mans- en vrouespelers vóór die kwarteindstrydronde die trekpas gekry het.

Rafael Nadal en Casper Ruud is vroeër uitgeskakel, terwyl Ons Jabeur in die derde ronde teen Marketa Vondrousova vasgeval het.

Uitslae:

Jiri Lehecka klop Felix Auger-Aliassime met 4-6, 6-3, 7-6 en 7-6

Karen Khachanov klop Yoshihito Nishioka met 6-0, 6-0 en 7-6

Roberto Bautista Agut klop Andy Murray met 6-1, 6-7, 6-3 en 6-4

Novak Djokovic klop Grigor Dimitrov met 7-6, 6-3 en 6-4

Sebastian Korda klop Hubert Hurkacz met 3-6, 6-3, 6-2, 1-6 en 7-6

Jelena Ostapenko klop Coco Gauff met 7-5 en 6-3

Elena Rybakina klop Iga Swiatek met 6-4 en 6-4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.