Novak wil die jong sterre klop

Novak Djokovic vier sy oorwinning in die ATP-eindronde teen die 22-jarige Jannik Sinner. (Foto: Tiziana Fabi/AFP)

Dit lyk reeds vir baie tennisliefhebbers of Novak Djokovic die fontein van ewige jeug ontdek het, maar die Serwiese tennisster meen dat die jonger tennisspelers vir bykomende woema sorg.

Selfs op 36-jarige ouderdom.

“Die jonger manne is honger vir sukses en hulle wil hul beste tennis teen my speel. Nou ja, dit motiveer my ook om op my beste te wees. Hulle het beslis vir my nuwe vuur en passie gegee,” het Djokovic gesê.

Hy het vanjaar onder meer met Grand Slam-louere in Australië, Frankryk en New York weggestap, terwyl hy ook vir die soveelste keer in sy loopbaan die jaar as die voorste tennisspeler op die internasionale verhoog afgesluit het.

Tog erken hy dat sy Wimbledon-nederlaag teen Carlos Alcaraz waarskynlik vir die grootste motivering gesorg het.

Die jong Spanjaard het ʼn titaniese grasbaan-eindstryd met 1-6, 7-6, 6-1, 3-6 en 6-4 beklink en Djokovic erken dat hy dalk só ʼn wedstryd nodig gehad het.

“Ek was sommer vies ná afloop van Wimbledon gewees en ek was oorgehaal om elke liewe wedstryd in Amerika te wen. Ek kon dit darem doen.”

Sedertdien het hy ook met Alcaraz in Cincinnati en Turyn afgereken.

Ná sy Wimbledon-nederlaag het Djokovic twee keer op ’n streep met Carlos Alcaraz klaargespeel. (Foto: Matthieu Mirville/DPPI via AFP)

Deur die jare het die Serwiër ook al ʼn meester van sielkundige oorlogvoering op die baan geword.

“Daar is geen fisieke kontak in ʼn tenniswedstryd nie, maar daar is beslis oogkontak. Wanneer ons kante ruil, of wanneer ons ʼn vinnige blaaskans neem, hou ek my teenstander goed dop. Hoe drink hy sy water, sweet hy ʼn bietjie meer as normaalweg? Haal hy diep asem of nie? Alles het uiteindelik ʼn invloed op die wedstryd.”

Volgens Djokovic verwelkom hy emosie op die baan.

“Ek mag dalk gefokus lyk, maar soms woed daar ʼn storm binne my. Wanneer die emosiepot dreig om oor te kook, aanvaar ek dit doodeenvoudig net. Ek mag dalk op die baan skree, maar sodra ek uiting aan my frustrasie gegee het, kan ek die herstelknoppie druk en terugveg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.