Novak wil jaar as wêreld se beste afsluit

Novak Djokovic is oorgehaal om nog sukses in 2023 te smaak. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Novak Djokovic se tennisdrome word gereeld op die baan bewaarheid. En sy jongste doelwit is om die jaar as die wêreld se beste speler af te sluit.

“Ek benodig net een oorwinning om die seisoen op ’n baie hoë noot af te sluit. Hopelik kan ek terselfdertyd die ATP-eindtoernooi wen; kom ons kyk maar wat gebeur,” het die 36-jarige Serwiër gesê.

Hy begin sy veldtog teen Holger Rune in Turyn; ’n speler met wie hy onlangs in die kwarteindstryd van die Parys-meesterstoernooi afgereken het.

“Holger maak sy buiging by die ATP-eindronde en saam met Carlos Alcaraz is hulle die toekoms van wêreldtennis.”

Boris Becker is deesdae in Rune se afrigtershokkie en Djokovic het erken dat dit vreemd is om sy oudmentor saam met ʼn ander speler te sien.

“Elke keer wat ons teen mekaar speel is dit ’n taai stryd en ek is seker dat tennisliefhebbers weer iets soortgelyk kan verwag.”

Volgens Djokovic neem dit ’n rukkie om aan die vinnige bane van Turyn gewoond te raak.

“Ons is taamlik hoog bo seespieël hier en al is die toeskouers nie noodwendig bewus daarvan nie, voel ons spelers dit beslis op die baan. Die bal vlieg deur die lug en jy het eintlik ’n paar dae nodig om aan alles gewoond te raak.”

Hy meen dat hy ook die skrywer van sy eie tennisnalatenskap is.

“Ek speel nog teen ʼn hoë vlak, terwyl rekords ook vir die nodige motivering sorg. Ek is egter op my eie tennispad en ek sal graag wil sien hoe ver ek nog daarop kan stap.”

  • Groepverdeling van die ATP-eindtoernooi in Turyn:

Groen Groep: Novak Djokovic, Jannik Sinner, Stefanos Tsitsipas en Holger Rune.

Rooi Groep: Carlos Alcaraz, Daniil Medvedev, Andrey Rublev en Alexander Zverev.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miskruier ·

N wenner wat die wereld gewys het die covid spuite is n klug.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.