Novak wil vonkelwynproppe in Parys laat klap

Novak Djokovic het verlede jaar vir Daniil Medvedev in die eindstryd van die Parys-meesterstoernooi geklop. Foto: Christophe Archambault/AFP.

Ná twee agtereenvolgende oorwinnings – in Israel en Kazakstan – loop Novak Djokovic se tennis-selfvertrouebeker oor aan die vooraand van die Parys-meesterstoernooi.

Die 35-jarige Serwiër is die verdedigende kampioen in die Franse hoofstad en hy is oorgehaal om sy titel suksesvol te verdedig.

“Ek sien uit om in Parys af te slaan en my voorbereiding verloop goed vir die laaste twee toernooie van die jaar. Die titels in Tel Aviv en Astana het beslis vir my ʼn motiveringshupstoot gegee,” het die voormalige wêreldno. 1-speler gesê.

Djokovic is nog honger vir sukses en hy het die hoop uitgespreek dat hy toegelaat sal word om in volgende jaar se Australiese Ope te speel.

“Hoewel niks nog amptelik is nie, is daar positiewe tekens wanneer ʼn mens van my Melbourne-deelname praat. My regspan is in verbinding met die betrokke owerhede wat in beheer van my saak is en ek hoop om binnekort ʼn antwoord te hê.”

Die Serwiese ster is vroeg vanjaar uit Australië geskop omdat hy weier om teen Covid-19 ingeënt te word.

“Wat vroeër gebeur het is in die verlede en ek wil net tennis speel. Australië is juis die plek waar ek met van my beste spel vorendag kom.”

Djokovic het reeds nege keer met die louere in Melbourne weggestap.

Nadal maak ook weer litte los

Volgens berigte sal Rafael Nadal ook weer in Parys te siene wees.

Die 36-jarige Spanjaard het die afgelope paar toernooie misgeloop, maar hy sal weer op alle suiers wil vuur in aanloop tot die ATP-eindrondetoernooi in Turyn.

Die Parys-meesterstoernooi word van 29 Oktober tot 6 November beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Treurwilger ·

“ uit Australië geskop … “
Maar eers soos ‘n sleg krimineel in ‘n ‘hotel’-tronk agter tralies aangehou sonder foon. Steeds verbysterend.
Djokovic moet uiteraard vergewe en vergeet, maar dit geld beslis nie diegene waar alle agting vir Australië soos mis voor die son verdwyn het nie.

George ·

soos met enige iemand wat Australia onwettig in kom en gejok het op hul “incoming passanger” dokument? Hy is behandel soos almal, dis hoekom sy pa so kwaad was, want hys dan n celeb en verdien special treatment. Die ausies moet sy 3 jaar ban hou, soos met al die ander wat op so wyse die land probeer binne kom het.

George ·

Letterlik soos elke persoon wat jok op hul incoming dokumente. Hyt special treatment verwag en nie gekry nie, toe tantrum hy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.