Nuwe bokskampioen doen woord aan oorlede pa gestand

Tian Fick. Foto: Verskaf.

Toe Tian Fick vroeër vandeesmaand Suid-Afrika se nuwe swaargewig-bokskampioen geword het, was hy nie net die enigste Kapenaar in 106 jaar om hierdie prestasie te vermag nie, maar het boonop sy woord aan sy oorlede pa gestand gedoen.

“My pa is twee weke vóór my eerste professionele geveg dood en sedert daardie debuutkragmeting is dit ’n stelling wat ek in die kryt wou maak: Ek sal eendag met die titel wegstap,” het Fick aan Maroela Media gesê.

Die reus van 2,03 m het terstond sy professionele buiging met ’n uitklophou gevier, terwyl hy op 11 Desember vanjaar vir Josh Pretorius ná 12 rondes gewen het om die nasionale titel omhoog te hou.

“Natuurlik is ek trots op die prestasie; dit is lekker om die titel na die Kaap te bring. Maar die belangrikste is dat ek my belofte aan my pa kon nakom. Ek wens ek kon sy gesigsuitdrukking sien die oomblik toe ek die titel gewen het.”

Die feit dat Fick langer as 2 m is, tel ook in sy guns.

Foto: Verskaf.

“Mits jy natuurlik weet hoe om dit tot jou voordeel te gebruik. Ek het dit eers onlangs geleer en my hele boksstyl is aangepas om by my lengte te pas.”

Volgens Fick is hy trots op die twee boksers se vertoning in die titelgeveg – veral as jy in ag neem dat hy voedselvergiftiging kort vóór die geveg opgedoen het.

“Dit was ’n kookwater-geveg gewees. Ja, ek dink met tye dat ek sekere dinge beter kon gedoen het, maar ek kan nie glo dat ek vir 12 volle rondes uitgehou het nie. Josh was ongetwyfeld fikser gewees, maar ek is dankbaar dat my lyf so goed gereageer het.”

Hy het sy bokshandskoene nadergetrek nadat hy sy rugbystewels opgehang het en die nuwe sportuitdaging het hom soos ’n handskoen gepas.

“Ná my rugbyloopbaan het ek na iets gesoek wat my sou uitdaag – iets wat ek nooit vantevore sou doen nie. Ek het met amateurboks weggespring en kort voor lank agtergekom dat ek afstand en openinge baie goed kan skat.”

Voeg daarby sy oupa se gene – hy het vir die destydse Suidwes-Afrika geboks – saam met sy hand-oog-koördinasie wat op die rugbyveld ingeoefen is en jy het ’n atleet wat maklik hoër hoogtes in die bokskryt kan bereik.

Saam met sy pa (Johan). Foto: Verskaf.

Hy en sy bestuurspan ondersoek nou juis die moontlikhede om in Engeland en die VSA te boks – enige plek wat vir ’n lekker uitdaging kan sorg en finansieel ook die moeite werd sal wees.

Maar intussen kan plaaslike boksliefhebbers regop sit: Tian Fick is Suid-Afrika se blinknuwe swaargewig-bokskampioen – ’n prestasie waarop sy pa beslis trots sou gewees het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.