ʼn Nuwe kampioen sal Sondag in Bloemfontein na sewe weke se gehalte-netbal in die Netbal-premierliga gekroon word.
Suid-Gauteng se Fireballs en die Wes-Kaap se Stings het die naweek hulle halfeindstryde gewen en sluit aan by die Noord-Gautengse Jaguars en die Noord-Wes Flames vir die halfeindstryde. Laasgenoemde twee spanne het outomaties vir die halfeind gekwalifiseer nadat hulle die eerste twee plekke op die rondomtalie-puntelys beklee het.
Die Vrystaatse Crinums, wat die afgelope drie jaar sedert die toernooi se aanvang die wenners van die Netbal-premierliga was, kon Vrydagaand nie die mas opkom teen die Stings nie.
Die Stings het met ʼn oorwinning van 52-42 hulle plek in die halfeind verseker.
Die Fireballs het ʼn veel makliker wedstryd teen die Oos-Kaapse Aloes gehad en hulle met 68-24 geklop.
♦ Saterdag het die Aloes en die Crinums om die vyfde en sesde plekke uitgespeel en die Crinums het die wedstryd maklik met 77-29 gewen om die vyfde plek in te neem.
Die Noord-Kaap se Diamonds, die Mpumalanga Sunbirds, die KZN Kingdom Stars en die Limpopo Baobabs het Saterdag en Sondag om die onderste vier plekke uitgespeel.
Saterdag het die Stars die Diamonds met 66-26 geklop en in ʼn baie spannende wedstryd het die Baobabs met 50-47 teen die Sunbirds gewen.
Sondag se wedstryd om die sewende en agste plekke te bepaal is met 55-40 deur die Kingdom Stars teen die Baobabs gewen.
In die uitspeel om die negende en tiende plekke was die Sunbirds met 4916 teen die Diamonds baas.
Bepalings vir die agste en laaste ronde –
Saterdag
16:00 – Eerste halfeind: Jaguars teen Fireballs
18:00 – Tweede halfeind: Flames teen Stings
Sondag
10:30 – Verloorders – uitspeel vir derde en vierde plekke
12:30 – Eindwedstryd – wenners van halfeindstryde.