Olike Andy onttrek aan Novak-stryd

Andy Murray. Foto: William West/AFP.

Tennisliefhebbers wat na die wedstryd tussen Andy Murray en Novak Djokovic in Madrid uitgesien het, sal nou ’n rukkie langer vir dié tweestryd moet wag.

Murray het op die nippertjie – skaars ’n uur vóór afslaantyd om presies te wees – aan die wedstryd onttrek, vermoedelik weens voedselvergiftiging.

Die 34-jarige Skot is deesdae knaend op die krukkelys en dit sou sy eerste wedstryd in vyf jaar teen die wêreldnommereenspeler gewees het.

Dit moet ’n groot teleurstelling vir Murray wees nadat hy in die vorige twee rondes onderskeidelik met Dominic Thiem en Denis Shapovalov afgereken het.

Boonop het hy ook na die Djokovic-kragmeting uitgesien en hy wou alles in die stryd werp om sy tiende wedstryd teen die Serwiër te wen.

“Op papier staan ek het nie ’n kans om die wedstryd te wen nie. Novak is die beste speler ter wêreld, terwyl ek met ’n metaalheup moet speel. Maar ek het die afgelope ruk deksels hard gewerk en begin al hoe beter op die baan rondbeweeg. Nodeloos om te sê, gee dit my meer vertroue – veral wat besluitneming betref,” het hy gesê nadat hy met Shapovalov klaargespeel het.

Volgens Feliciano Lopez (toernooidirekteur) het Murray vanoggend aangedui dat hy beter voel, maar nog nie gesond genoeg is om ’n wedstryd te speel nie.

Dit beteken dat Djokovic nou môre in die kwarteindstryd sal speel. Dit moet nog bevestig word wie sy mededinger sal wees.

In ander aksie het Rafael Nadal vir Miomir Kecmanovic met 6-1 en 7-6 geklop. Dit was die vurige Spanjaard se eerste wedstryd nadat hy ’n ribbesering in die Indian Wells-toernooi opgedoen het.

“Ek kon vandag vir amper twee uur my man teen ’n baie goeie teenstander staan. Dit was ’n goeie oorwinning en ek is trots op my vertoning. Dit is net nog ’n tree nader aan my uiteindelike doelwit, naamlik om weer met die fiksheidsvlakke van ouds te speel,” het Nadal gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mallie ·

Dis baie jammer. Sou dit baie graag wou sien. Sterkte ou maat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.