Olimpiese en Wêreldkampioen – en nou ook ʼn Cape Epic-wenner

Nino Schurter het nou ook die Cape Epic by sy prestasies gevoeg (Foto Nick Muzik/Cape Epic/ SPORTZPICS)

Die 2017 Absa Cape Epic laat mens dink aan die Afrikaanse gesegde van twee honde wat baklei vir ʼn been en die derde een hardloop daarmee weg.

Terwyl Christoph Sauser (Switserland) en Karl Platt (Duitsland) elkeen ʼn sesde algehele Cape Epic-sege vanjaar gesoek het, was dit die Olimpiese en Wêreldkampioen Nino Schurter wat met sy SCOTT-spanne gekom en die 14de uitgawe van dié meerdaagse gewen het.

Schurter van Switserland en sy Sweedse spanmaat Matthias Stirnemann het daarmee vanjaar albei hul eerste Cape Epic gewen.

Die Scott Young Guns Andri Frischknecht (Switserland) en Michiel van der Heijden het die laaste skof van Oak Valley tot by Val de Vie oor 85km in 2:57:14 gewen.

Schurter en Stirnemann se tyd oor die net meer as 650km was 26:35:06. Algeheel tweede was Jaroslav Kulhavy en Sauser (Investec-Songo-Specialized), meer as agt minute agter. Centurion Vaude se Nicola Rohrbach (Switserland) en Daniel Geismayr (Oostenryk) het met ʼn goeie laaste skof opgeskuif van die vierde na die derde plek om die laaste posisie op die wennerspodium in te neem.

“Om die Cape Epic te wen, is iets waaroor ek al gedroom het. En om dit reg te kry met die eerste keer wat ons dit probeer regkty is ongelooflik. Dit is ʼn groot sege. Ek het al ʼn paar titels in my lewe gewen, maar die Cape Epic het nog altyd ontbreek. Ek is so trots op my span. Dit is vir almal ʼn eerste keer en niemand het foute gemaak nie.”

Stirnemann het bygevoeg: “Ek het gekom om ervaring op te doen en nou ervaar ek die grootste oomblik van my loopbaan tot dusver. Ek moet dankie sê vir dié wat hierdie geleentheid en ervaring moontlik gemaak het.”

♦  Nóg ʼn Switser wat ʼn algehele sege behaal het, is Esther Süss wat saam met Swede se Jennie Stenerhag (Meerendal CBC) die vroue-afdeling gewen het in ʼn algehele tyd van 31:39:43. Dit was Süss se tweede sege en Stenerhag se eerste.

“Vir ons was dit net belangrik om vandag veilig by die eindpunt te kom. Dit is ʼn baie spesiale dag vir my en Jennie,” het ʼn oorstelpte Süss gesê.

♦  Suid-Afrika se Robyn de Groot en Duitsland se Sabine Spitz (Ascendis Health) het die laaste skof in 3:34:27 gewen. Hulle was algeheel derde. Tweede in die skof én algeheel was die Suid-Afrikaanse kampioen Mariske Strauss en haar Britse spanmaat Annie Last (Hansgrohe Cadence OMX).

Artikel deur Absa Cape Epic verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.