Olimpiese Spele: Wankelrige begin vir SA op Spele

China se Yang Qian het Saterdag die eerste goue medalje van die Olimpiese Spele verower in die windbuksfinaal vir vroue by die Asaka-skietbaan in Nerima, Tokio (24 Julie 2021) (Foto: Tauseef Mustafa/AFP)

Die eerste amptelike dag van die Olimpiese Spele het Saterdag in Tokio op ʼn teleurstellende noot vir Suid-Afrika begin.

Nadat die o.23-sokkerspan Donderdag reeds met 1-0 deur Japan geklop is, was die oë op van die land se toproeiers, die mans-en vroue-hokkiespanne, die land se drie beste padfietryers, die nasionale vroue-waterpolospan, twee belowende swemmers en ʼn judoka.

Maar daar was geen sukses op ʼn dag wat die kragte in versengende hitte getap het nie.

Vroegoggend het Suid-Afrika se viertal-roeiers aangetree, maar John Smith, Lawrence Brittain, Kyle Schoonbee en Sandro Torrente, kon slegs vyfde in hul uitdun eindig en sal môre in die repechage in aksie teen Roemenië en Nederland wees om vir die eindronde te probeer kwalifiseer.

Dié resies sou aanvanklik Maandag plaasgevind het, maar met ʼn tifoon wat dreig om Japan te tref, is dit na Sondag vervroeg.

Luc Daffarn en Jake Green het in die afdelinge vir pare (2 000 m) ook vyfde geëindig en neem ook aan die repechage deel om by die agterdeur vir die eindronde in te glip.

In fietsry se padren kon net Stefan de Bod (54ste) die resies voltooi, wat deur Richard Carapaz van Ecuador gewen is, met Wout van Aert (België) tweede en Tadig Pogacar (Slowenië), wat verlede Sondag die Tour de France gewen het, derde.

Suid-Afrika se Nicholas Dlamini, wat lank in ʼn wegbreekgroep voor was, en Ryan Gibbons se stoom het opgeraak en kon nie die ren voltooi nie.

Michaela Witbooi het met ʼn ippon in judo se o.48-afdeling teen die wêreldkampioen, Paula Pareto van Argentinië, verloor.

In die swembad het Erin Gallagher en Michael Houlie albei laaste in hul uitdunne onderskeidelik in die 100 m-vlinderslag en 100 m-borsslag geëindig.

Om sake verder te vertroebel, het Brittanje se manshokkiespan Suid-Afrika met 3-1 geklop terwyl Ierland se vrouespan met 2-0 teen Suid-Afrika gewen het.

Suid-Afrika se waterpolospan is met 29-4 deur Spanje geklop, die grootste nederlaag nóg op ʼn Spele.

Suid-Afrikaners Sondag in aksie:
02:00: Roei, repechage: viertalle oor 2 000 m
03:00: Waterpolo (mans) SA vs Italië
03:00: Skaatsplank: Brandon Valjalo
03:00: Branderplank: Bianca Buitendag
04:00: Artistieke gimnastiek: Naveen Daries, Cailtin Rooskrantz
06:00: Fietsry: Padren vir vroue: Ashleigh Moolman-Pasio, Carla Oberholzer
09:00: Duik; 3 m-springplank: Julia Vincent en Micaela Bouter
10:00: Sokker: SA vs Frankryk
12:45: Swem: Uitdunne, 100 m-borsslag vir vroue: Tatjana Schoenmaker
13:01: Swem: Uitdunne: 100 m-rugslag: Pieter Coetzee
14:15: Hokkie (mans): SA vs Nederland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.