Omstrede Armstrong maak skokonthullings in dokumentêr

Lance Armstrong. Argieffoto.

Die omstrede Amerikaanse fietsryer, Lance Armstrong, het erken dat hy reeds op ’n jong ouderdom verbode middels begin gebruik het.

Armstrong, nou 48 jaar oud, het die verbeelding van die fietsrywêreld aangegryp toe hy sewe agtereenvolgende Tour de France-titels tussen 1999 en 2005 gewen het. Hy is egter in 2012 van al sy titels gestroop en hy het in die daaropvolgende jaar erken dat hy sedert 1996 verbode middels gebruik het.

Maar in ʼn nuwe opspraakwekkende ESPN- dokumentêre reeks oor sy loopbaan, getiteld Lance, het Armstrong aan ’n Amerikaanse joernalis gesê dat hy baie vroeër met die gebruik van die middels begin het.

“Seker toe ek so 21 jaar oud was,” het hy na ’n lang stilte op Marina Zenovich se vraag geantwoord.

Sy skokonthulling beteken dat sy Wêreldpadfietskampioenskap-titel in 1993 óók onder verdenking is. Armstrong het dié gesogte titel ’n maand vóór sy 22ste verjaardag gewen.

“Daar is ’n hele spul maniere waarop die gebruik van verbode middels gedefinieer kan word. Die maklikste manier om dit seker te verduidelik is deur die blote verbreking van die reëls.

“Het ons vitamien-inspuitings en ander soortgelyke goed op ’n vroeër stadium gekry? Ja, maar dit was nie onwettig nie. Ek het altyd gevra wat hulle my gegee het; ek het altyd geweet en ek het die besluit op my eie geneem,” het Armstrong gesê.

Volgens mediaberigte wonder Armstrong ook of die gebruik van groeihormone dalk ’n bydraende faktor in sy kankerdiagnose was.

Hy is in 1996 met testikulêre kanker gediagnoseer en dit het later na sy kliere, longe en brein versprei.

“Jy weet, ek het nie ’n definitiewe antwoord daarop nie. Ek wil nie nee sê nie, want ek dink nie dit is die regte ding nie. Ek weet dus nie of dit ja of nee is nie, maar ek sal beslis nie die moontlikheid uitsluit nie.

“Die enigste ding wat ek jou wel sal sê, is dat ek in 1996 vir die enigste keer in my lewe met groeihormone geëksperimenteer het.”

Die opspraakwekkende reeks sal op 24 en 31 Mei deur ESPN uitgesaai word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae