Onderkry is min vir dié jong skiër

Deur Riaan Hofmeyr

William Flaherty in aksie. Foto: Fabrice Coffrini/AFP.

Puerto Rico en William Flaherty is nie noodwendig die eerste twee name wat by jou opkom as jy aan die Winterspele in Beijing dink nie, maar die 17-jarige atleet se storie is ongetwyfeld die moeite werd om te lees.

Die jong Flaherty het sy land by die internasionale skouspel se slalom-kompetisie verteenwoordig – ’n ski-sportsoort wat op ’n kronkelbaan tussendeur hindernisse en bakens plaasvind.

Hoewel hy 40ste met sy tyd van 2:41:42 klaargemaak het, het hy in die spore van sy ouer broer, Charles, gevolg – ’n baanbreker wat vier jaar gelede in Suid-Korea die eerste skiër in 20 jaar geword het om Puerto Rico by die Olimpiese Winterspele te verteenwoordig.

Die twee het ’n baie hegte band nadat Charles destyds vir sy jonger broer beenmurg geskenk het toe hy dit as ’n driejarige benodig het.

“Charles het al so baie vir my gedoen. Ek kyk al vir jare op na hom en voortaan sal ek dit waarskynlik net nog meer doen,” het William in ’n onderhoud met AFP gesê.

Die 17-jarige sportman het reeds 30 operasies in sy jong lewe ondergaan en hy vertel dat sport ’n groot rol in sy lewe speel.

Die Flaherty-broers het van kleins af reeds ’n groot liefde vir ski ontwikkel en hulle het onder die bekwame toesig van Sara Radamus (bekende skiër van die VSA) genoeg ondervinding en kundigheid opgedoen om Olimpiese atlete te word.

“Om te ski is ’n wonderlike ontvlugtingsmeganisme, want dan kan ek net op my vertoning fokus en van al die ander dinge vergeet.”

Hy erken egter terselfdertyd dat sy mediese probleme beslis as motivering dien.

“Ek wil aan almal wat ’n oorplantingsprosedure oorleef het, bewys dat hulle enigiets kan doen. ’n Mens se mediese geskiedenis definieer nie wie jy vandag is nie – jy kan steeds voluit leef en jou doelwitte bereik.”

William benodig nog verdere operasies ná daar vantevore komplikasies ontstaan het toe dokters ’n vergroeisel aan sy gesig wou verwyder.

“Daar lê ’n operasie vir my voor waar hulle een van die beentjies in my been gaan verwyder om in ’n kakebeen te omskep. Ja, daar is geen einde aan al die mediese prosedures nie, maar ek is al oukei daarmee; dit is deel van my lewe.”

En hoewel die toekoms onseker is, is William Flaherty nou ’n Olimpiese atleet – ’n prestasie wat niks of niemand hom ooit sal kan ontneem nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.