Onderkry is min vir dié sportman

Allan Britnell het skitterende in sy eerste Ironman 70.3 in Oos-Londen gevaar. Foto: Verskaf.

’n Paar jaar gelede was Allan Britnell die voorloper in die nasionale o.23-bergfietsreeks. Maar 5 Desember 2011 is waarskynlik ’n dag wat hy lank sal onthou.

Hy het vroegoggend vóór werk in die Pretoriase strate op sy fiets geoefen toe ’n dronk bestuurder in hom vasgery het. Die impak het gesorg dat hy deur die motorruit geslinger is en sy skoonsuster – wat vinnig op die toneel was – het hom bewusteloos aangetref. Sy fiets was middeldeur gebreek.

Hy is na die Unitas-hospitaal gehaas waar medici gesê het dat hy baie gelukkig was – die diep snywonde aan sy nek het sy slagaar rakelings gemis. Sy niere wou egter oppak en hy moes drie dae in die hoësorgeenheid bly.

Maar onderkry is egter min vir dié talentvolle sportman en as jy die versnelknoppie na 5 Februarie 2020 druk, het hy ’n indrukwekkende Ironman 70.3-kompetisie in Oos-Londen agter die blad.

Die 27-jarige het vir die eerste keer in sy lewe die 1,9 km swem, 90 km fietsry en die 21,1 km draf van die moordende Ironman-reeks aangedurf en ’n heel skaflike 119de plek losgeslaan. Boonop was hy 17de in sy ouderdomsgroep; net ’n paar minute vinniger en jy kon maar die vliegtuigkaartjie na die wêreldkampioenskap in sy kategorie vir hom bespreek het.

“Jislaaik, daardie seewater was koud,” is van sy eerste woorde toe hy oor sy Ironman-buiging gepols is. Deelnemers moes ’n yskoue Indiese Oseaan trotseer – die kwik het tot so laag as 13 °C gedaal.

Op sy ysterperd. Foto: Verskaf.

“Ek kon aanvanklik nie my gesig gevoel het nie, maar soos wat hulle altyd sê: As jy eers in is, is dit eintlik oukei!”

Hy het die swemsessie in ’n tyd van 34:33 voltooi, terwyl hy die 90 km van die fietsry-afdeling in 02:56:13 afgeblits het. Nodeloos om te sê is dié twee items sy sterk punte.

Hy is egter ’n atleet vir die groot oomblik en hy het terstond sy persoonlike beste tyd oor ’n halfmarathon gedraf: Sy tyd van 1:42:50 is ’n minuut of wat vinniger as sy vorige rekord.

“Dit is net ’n anderste soort uitdaging om drie verskillende sportsoorte op een dag te doen. Die hype tydens só ’n kompetisie is ongelooflik; jy het beslis daardie atmosfeer nodig om jou aan te spoor.”

Hy het sy persoonlike beste tyd in die halfmarathon gedraf. Foto: Verskaf.

As jy met enige driekamp-atleet praat wat sy of haar sout werd is, sal hulle jou vertel dat jou geestelike ingesteldheid selfs belangriker as jou fisieke voorbereiding is. En Britnell stem heelhartig met dié stelling saam.

“By die oorgangspunt net vóór die drafgedeelte tref dit jou skielik vierkantig tussen die oë: Jitte, jy moet nog 21 kilometer hardloop ook. Ek het vir myself met elke twee kilometer ’n doelwit gestel en dit só tot die einde volgehou.”

Die volgende Ironman-inskrywing in sy dagboek is op 7 Junie in Durban, waar hy wil poog om vir die wêreldkampioenskap in sy ouderdomsgroep te kwalifiseer.

Elke mens se lewenstorie bevat verskillende hoofstukke. En ná die ongeluk-hoofstuk kan Allan Britnell se verhaal oor ’n paar lekkerlees Ironman-hoofstukke beskik. Hy het die talent, vermoë en die wilskrag om dit te skryf.

Hy is ook tydens ’n oefensessie deur ’n minibus-taxi in ’n tref-en-trap-ongeluk gestamp.

  • Britnell se Ironman-tye:

Swem (1, 9 kilometer): 34:33

Fietsry (90 kilometer): 02:56:13

Draf (21,1 kilometer): 1:42:50

Algehele tyd: 5:24:06

  • Hy gaan die naweek die Midmar-myl naby Howick in KwaZulu-Natal swem.

Die tien top-plekke by die Ironman 70.3 in Oos-Londen:

  1. Matt Trautman (Suid-Afrika, 4:02:59)
  2. Bradley Weiss (Suid-Afrika, 4:05:48)
  3. Henri Schoeman (Suid-Afrika, 4:07:30)
  4. Bart Aernouts (België, 4:09:10)
  5. Kyle Buckingham (Suid-Afrika, 4:10:17)
  6. Michael Raelert (Duitsland, 4:11:32)
  7. Cyril Viennot (Frankryk, 4:15:50)-
  8. Ryan Schmitz (Suid-Afrika, 4:18:48)
  9. Donovan Geldenhuys (Suid-Afrika, 4:24:17)
  10. Jandré Bezuidenhout (Suid-Afrika, 4:29:18)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.