Ondersteuners jou sokkerspelers uit wat die knie buig

Foto: Twitter.

Die Black Lives Matter-beweging het weer eens vir ’n herrie op die sportveld gesorg nadat ondersteuners van Millwall Football Club hul span se spelers uitgejou het wat die knie voor die aanvang van hul wedstryd teen Derby County gebuig het.

Dit was die eerste keer sedert Maartmaand dat ondersteuners by wedstryde in Engeland toegelaat word en 2 000 geesdriftige toeskouers het Saterdag luidkeels hul misnoeë met die spelers se gebaar te kenne gegee.

Nodeloos om te sê was die klubbase teleurgesteld met hul ondersteuners se gedrag en hulle het in ’n verklaring gesê dat hulle “hartseer” is oor Saterdag se gebeure.

“Die klub het die afgelope paar maande onverpoos agter die skerms gewerk om dinge in orde te kry vir die terugkeer van toeskouers. Wat ’n positiewe en opwindende geleentheid moes gewees het, is heeltemal deur die toeskouers se gedrag oorskadu.”

Volgens Millwall sal die klub se spelers voortgaan om hul platform te gebruik om verandering teweeg te bring; nie net op die sokkerveld nie, maar ook in die samelewing.

Daarbenewens word George Eustice, ’n Britse kabinetsminister, daarvan beskuldig dat hy vir rassiste in die bresse tree nadat hy nie die toeskouers se gedrag veroordeel het nie.

Volgens The Guardian het Eustice wel gesê dat rassisme en rassediskriminasie ernstige kwessies is, maar dat BLM ’n politieke beweging is waarmee nie almal saamstem nie.

Millwall was in aksie teen Derby County die afgelope naweek. Foto: Twitter.

Eustice se kommentaar is deur groepe soos Kick It Out en Hope Not Hate veroordeel.

“Ondeurdagte kommentaar soos hierdie bied ’n veilige hawe vir rassiste wat teen teen-rassisme gebare gekant is,” het Sanjay Bhandari, Kick It Out se voorsitter, gesê.

Tog lyk dit of die BLM-beweging die wind van voor kry by sommige Britse politici. Die Konserwatiewe Party se Simon Clarke het met Eustice se kommentaar saamgestem.

“Rassisme is ’n euwel waarvan ons ontslae moet raak. Maar die BLM-beweging het ’n spesifieke en omstrede politieke agenda; soos wat hulle ook self verklaar het,” het Clarke gesê.

Dan het Kemi Badenoch, Brittanje se minister van gelykheid, gesê dat swart mense se lewens ongetwyfeld baie belangrik is, maar dat BLM beslis ’n politieke beweging is.

Vroeër vanjaar het die Sale Sharks-rugbyspan se Suid-Afrikaanse spelers staande voor hul wedstryde gebly. Hoewel Nathi Mthetwa, Suid-Afrika se sportminister, teleurgesteld was met die spelers se optrede, het hy gesê dat hy nie teen hulle sal optree nie.

“Ek sou egter in my plig versuim het as ek nie belanggestel het in die redes waarom die spelers op verskillende maniere besluit het om hul eengesindheid met die Black Lives Matter-beweging te toon nie,” het Mthethwa in September gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andréas ·

In alle sport beteken “ondersteuner” die van ‘n individue/ span/ provinsie of land. Dit het absoluut NIKS met politiek te doen. Klub-, span- of persoonlike borge/ bestuurders óók NIKS. Hul kry reeds reklame-inkomstes…
Basta! Almal is in elk geval gelyke en ewe belangrik as mens!

Derek ·

Dit raak nou regtig n afgesaagde holrug geryde storie. alle lewens is belangrik. Selfs die van diere wat so onnodig uitgemoor word net vir geld. Die meeste mense voel soos die toeskouers en die spelers moet begin groot word.

Niklaas ·

Sport geesdriftiges is al siek vir hierdie vervelige ou speletjie van buig en buk en bal vuisie voor die afskop. Dis erg irriterend. Maar niemand doen dit t. o. v. Blanke lewens nie.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Net die Skepper moet ‘n kniebuiging kry.

Andrew ·

Ek sal graag n onderhoud wil sien met die Pogba en Ozil rakende hulle siening as uitgesproke migrant muslim en die hantering van muslem lande se regte tenopsigte van lgbt, siende dat dit tans in engelse sokker groot aandag geniet.

koos10 ·

Daai ondersteuners sorg dat die spelers kos op die tafel het, dis reg, maak hulle kwaad en kyk wat gebeur. Kom loer dan sommer met een oog wat hier in SA met rugby en krieket gebeur. Die sporte is teen die planke, en die ondersteuners hol nie juis hulle bene af om te help nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.