Ondersteuning laat Novak selfs ná nederlaag glimlag

Novak Djokovic en Daniil Medvedev. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP Photo.

Novak Djokovic se droom om al vier Grand Slam-toernooie in een jaar te wen, is deur Rusland se Daniil Medvedev in die wiele gery.

Die jong Rus het goeie en berekende tennis gespeel om uiteindelik in drie stelle die Amerikaanse Ope-titel met 6-4, 6-4 en 6-4 in New York te wen.

“’n Mens weet nooit of jy ’n Grand Slam in jou loopbaan sal wen nie. Ek het altyd gesê dat ek my beste op die tennisbaan sal gee, selfs al is só ’n trofee my nie beskore nie. Dít is my eerste Slam en ek is baie gelukkig,” het Medvedev gesê.

Hy het ook hulde aan Djokovic gebring, ’n speler wat vanjaar in Australië, Frankryk en Engeland geseëvier het.

“Ek het dit nog nooit vir enigiemand gesê nie, maar ek gaan dit vandag sê: Wat mý betref, is jy die beste tennisspeler ooit.”

Die gewilde Rus het die toernooi op die dag van sy huweliksherdenking gewen en hy het geskerts dat sy oorwinning darem ’n goeie geskenk sal wees.

Dit moes egter ’n bittersoet oomblik vir Djokovic gewees het. Ja, sy drome het nie waar geword nie, maar hy het ongetwyfeld ’n hele paar ondersteuners bygekry.

Die wêreldnommereenspeler geniet ’n wipplank-verhouding met toeskouers. Soms hou hulle van hom en ander kere glad nie, terwyl Justine Henin vroeër gesê het hy sal nooit so gewild soos Roger Federer of Rafael Nadal wees nie.

Daarbenewens word hy gereeld uitgejou, maar gister het die toeskouers sy poging in New York waardeer.

“Natuurlik is ek hartseer, daar was so baie op die spel. Maar selfs al het ek nie gewen nie, is ek steeds die gelukkigste man ter wêreld, want julle het my baie spesiaal laat voel. Ek het nog nooit so in New York gevoel nie,” het ’n emosionele Djokovic ná die wedstryd gesê.

Terselfdertyd is hy ook verlig dat alles verby is – daar was baie druk op hom om Rod Laver se rekord van vier Grand Slams in een jaar te ewenaar.

“As professionele sportman wil jy graag wedstryde wen, maar hierdie oomblik is een wat ek vir altyd sal koester.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.