Ongekeurde verjaarsdagmeisie in Franse Ope-eindstryd

ʼn Jong ongekeurde speler kom Saterdag by die Franse Ope in die eindwedstryd om die vroue-enkelspeltitel teen die derde gekeurde te staan.

Jelena Ostapenko, wat Donderdag haar 20ste verjaarsdag gevier het, speel ná Donderdag se twee taai halfeindwedstryde teen die ervare Simona Halep om die titel. Ostapenko is die eerste ongekeurde vrou sedert 1983 wat die eindstryd haal.

Ostapenko het die halfeind teen die 28-jarige Timea Bacsinszky, wat ook Donderdag verjaar het, met 7-6, 3-6, 6-3 gewen, en in die tweede halfeind was die derde gekeurde Halep met 6-4, 3-6, 6-3 baas teen Karolina Pliskova, wat tweede gekeur is.

♦  Die jong Ostapenko het ná ʼn taai eerste stel waarin al twee spelers se afslane gebreek is, die valbylpot met 7-4 gewen.

Die tweede stel het ook baie gelyk verloop. Bacsinszky se gelykmatige temperament was in sterk kontras met haar teenstander se emosionaliteit.

Bacsinszky, wat 30ste vir die toernooi gekeur is, het die tweede stel met 6-3 gewen

Ostapenko het in die eerste pot van die derde stel op haar teenstander se afslaan deurgebreek, toe haar eie afslaan verloor en toe weer op Bacsinszky s’n deurgebreek. Uiteindelik het Ostapenko die wedstryd met 7-6, 3-6, 6-3 gewen om haar plek in die eindstryd te bespreek.

♦  In die tweede halfeind het Halep die eerste stel met 6-4 ingepalm en Pliskova het in die tweede stel die bordjies verhang en die stel met 6-3 beklink.

Die beslissende stel het ook baie gelykop verloop en nie een van die spelers kon werklik die oorhand kry nie. Halep het eerste afgeslaan en haar afslaan behou, en Pliskova het haar afslaanpot gewen nadat Halep ʼn breekpunt gehad het.

Halep het eerste deurgebreek (3-1) en het toe haar afslaan behou om met 4-1 voor te loop. Maar Pliskova was nie klaar nie. Sy het teruggeveg, haar afslaan behou en toe deurgebreek. Sake moes toe op Pliskova se afslaan weer gelyk gewees het, maar sy het haar afslaanpot verloor en Halep kon op 5-3 vir die wedstryd afslaan.

♦ Die vroue-eindstryd word Saterdag om 15:00 gespeel.

♦ Vrydag kom die twee manshalfeindstryde aan die beurt –
Andy Murray vs Stanislas Wawrinka, 12:45
Rafael Nadal vs Dominic Thiem, 15:30

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Susan ·

Dis een eindstryd wat ek nie sal kyk nie! Die een wil meer gil en jil as die ander! Nee dankie, gelukkig is daar baie ander sport om te kyk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.