‘Ongelooflike’ Daniil laat Griek nie met rus

Daniil Medvedev speel Sondag in die eindstryd van die Australiese Ope teen Rafael Nadal. Foto: Michael Errey/AFP.

Daniil Medvedev, wat in die eindstryd van verlede jaar se Australiese Ope teen Novak Djokovic verloor het, sal Sondag nog ’n kans kry om die silwerware omhoog te hou nadat hy met Stefanos Tsitsipas afgereken het.

Die eindtelling was 7-6, 4-6, 6-4 en 6-1 in die Rus se guns.

Hoewel Tsitsipas die tweede stel gewen het, het hy kwaai stoom in die derde en vierde stel verloor. Daarteenoor het Medvedev – wat soos ’n marathon-atleet gebou is – met al meer selfvertoue en energie begin speel.

Sy spel is gereeld as “ongelooflik” deur die wedstrydkommentators beskryf.

“Ek het in die derde stel gevoel hoe die momentum-pendulum in my rigting begin swaai het. Stefanos se energievlakke het skerp gedaal, terwyl ek waarskynlik vir nog ’n hele paar potte kon aanhou,” het Medvedev gesê.

Hy is vir sy fiksheid geloof; veral nadat sy vorige kragmeting teen Felix Auger-Aliassime amper vyf uur geduur het.

“Ek was aanvanklik bekommerd of ek genoegsaam vir vandag se wedstryd sou herstel, maar toe ek die volgende oggend ná die stryd teen Felix wakker word, het ek dadelik besef dat ek glad nie so moeg is nie.”

Sondag wag Rafael Nadal vir hom op die Rod Laver-baan.

Indien Nadal wen, sal dit sy 21ste Grand Slam-titel wees. As Medvedev met die louere sou wegstap, sal dit sy tweede agtereenvolgende titel wees nadat hy verlede jaar ook die Amerikaanse Ope gewen het.

“Dit is ’n spesiale oomblik in enige speler se loopbaan om in die eindstryd van ’n Grand Slam-toernooi te speel. Rafa is ’n sterk speler en ek sal ongetwyfeld op my beste moet wees.”

En as hy Sondag speel soos wat hy in vandag se laaste stel teen Tsitsipas gespeel het, gaan Nadal beslis harde bene kou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.