Op 42 swem Schoeman ʼn silwer los

Roland Schoeman het silwer by die nasionale kampioenskap gesmaak. (Foto: Glyn Kirk/AFP/Argieffoto)

Roland Schoeman het by die nasionale kampioenskap in Gqeberha gewys dat hoewel hy ouer is, sy prestasies in die swembad nog glad nie kouer word nie.

Die 42-jarige Olimpiese ster het die silwermedalje in die 50 m-vryslagitem met sy tyd van 22.89 sekondes losgeswem. Dit is ook ʼn nuwe wêreldrekordtyd vir swemmers in die kategorie 40 tot 44 jaar.

Pieter Coetzé – meer as 20 jaar jonger as die ervare silwermedaljewenner – het die goue medalje in ʼn tyd van 22.30 sekondes ingeoes, terwyl Clayton Jimmie [22.97 sekondes] derde geëindig het.

Volgens Schoeman, wat laas in 2016 by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap in aksie was, is dit ʼn spesiale ervaring om terug in sy geboorteland se swembadwater te wees.

“Ja, die tyd is nog nie heeltemal waar dit moet wees nie. Tog sal dit verbeter soos wat ek aan meer byeenkomste deelneem,” het hy gesê.

Hy is ongetwyfeld een van Suid-Afrika se sporthelde nadat hy ʼn rits medaljes op die internasionale verhoog losgeswem het.

Schoeman was by vier agtereenvolgende Spele (2000, 2004, 2008 en 2012) in aksie en hy was ʼn lid van die aflosspan wat goud in die 2004-skouspel in Athene gewen het.

Dan het Chad le Clos weer eens  die spoedkrane oopgedraai om die 100 m-vlinderslagtitel met ʼn tyd van 51.37 sekondes in te oes.

“Ek is baie tevrede met my vertoning, selfs al het die senuwees so ʼn bietjie geknaag. Ek en Matt (Sates) het altyd ʼn lekker tweestryd oor die laaste paar meter van ʼn item en dit is normaalweg ʼn naelbytstorie,” het Le Clos gesê.

Nodeloos om te sê het hy die Olimpiese Spele in die visier.

“Ek sal my beste gee om hierdie item ook by die Spele te wen; my selfvertroue het immers nou ʼn ordentlike hupstoot gekry.”

Lara van Niekerk was ook soos ʼn vis in die water in die eindstryd van die 50 m-borsslagitem. Die jong ster het die goue medalje met ʼn blitstyd van 29.78 sekondes ingeoes.

Tatjana Schoenmaker [30.71 sekondes] was tweede.

“Ek is mal daaroor om die 50 m in hierdie swembad aan te durf; veral omdat die toeskouers so lekker saamgesels,” het Van Niekerk gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.