Ope-veldtog verby, maar ranglyssprong wink vir Lloyd

Suid-Afrika se Lloyd Harris vier sy oorwinning oor Denis Shapovalov van Kanada. (Foto: Al Bello/Getty Images/AFP)

Lloyd Harris sal solank ’n leer moet aanskaf, want hy gaan beslis ’n paar plekke op die ATP-ranglys klim.

Die jong Suid-Afrikaner het gister weliswaar in die kwarteindstryd van die Amerikaanse Ope met 7-6, 6-3 en 6-4 teen Alexander Zverev vasgeval, maar hy het ’n droomlopie op internasionale tennisbane ervaar.

Harris het vanjaar agt Grand Slam-wedstryde gewen; in die tydperk vóór 2021 kon hy net twee keer as oorwinnaar van die baan in dié toernooie stap.

Daarbenewens het hy ook vir sy eerste ATP 500-eindstryd in Dubai gekwalifiseer en met ’n spul groot name (waaronder Rafael Nadal, Dominic Thiem en Denis Shapovalov) klaargespeel. Hy het altesaam 24 wedstryde gewen.

Gister het hy goed teen Zverev begin – hy het op ’n stadium in die eerste stel selfs met 5-3 voorgeloop – maar hy kon net nie die wa deur die drif trek nie.

Tog het die Duitser se optrede in die einste stel baie tennisliefhebbers omgekrap.

Zverev het ’n paar keer oor ’n grootskerm gekla en dit is veral sy tydsberekening wat veel te wense oorgelaat het – was dit om vir Harris van stryk te bring?

Maar Harris speel ongetwyfeld beter ’n speler wat 46ste ter wêreld gekeur is en in die komende jare kan hy beslis nog ’n paar tennisreuse laat struikel.

Intussen sal Zverev in die halfeindstryd teen Novak Djokovic te staan kom.

Die wêreld se voorste speler het die eerste stel in sy kwarteindstryd teen Matteo Berrettini verloor, maar hy het goed teruggeveg om uiteindelik met 5-7, 6-2, 6-2 en 6-3 te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elmarie ·

Well done jong man. Jy het miskien nie die toernooi gewen nie maar baie ondervinding opgedoen. Ons gaan nog baie van jou hoor in die toekoms

Moedeloos ·

Ek het ook op n staduim gedink die Duitser kla onnodig en altyd op die laaste punt van n stel wat lyk of hy kan verloor. Swak sportman gees. Well done Loyd jy het ons harte warm laat klop hierdie jaar by die USA Toernooi. Bly so nederig en jy sal ver kom in die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.