Osaka beboet, dalk gediskwalifiseer oor mediaboikot

Naomi Osaka. (Foto: MARTIN BUREAU/AFP)

Die Japannese tennisster Naomi Osaka kan moontlik van die Franse Ope gediskwalifiseer word as sy met haar omstrede mediaboikot voortgaan.

“Ons het Osaka ingelig dat sy haar blootstel aan moontlike verdere gevolge rakende die oortreding van die gedragskode as sy aanhou om haar mediaverpligtinge te ignoreer,” het die organiseerders van die vier Grand Slam-toernooie in ʼn verklaring gesê.

Osaka, die wêreld se naasbeste vrouetennisspeler, is reeds ʼn boete van $15 000 opgelê. “Herhaalde oortredings kan tot strenger sanksies lei, waaronder diskwalifisering uit die toernooi asook ʼn ondersoek wat groter boetes en toekomstige Grand Slam-skorsings tot gevolg kan hê.”

Osaka, ʼn viermalige Grand Slam-wenner en die bes betaalde sportvrou ter wêreld, is die boete opgelê nadat sy geweier het om ʼn mediakonferensie te hou ná haar eerste oorwinning van 6-4, 7-6 (7/4) teen Patricia Maria Tig.

Die 23-jarige het aan die vooraand van die toernooi gesê dat sy geen mediaverpligtinge sal nakom nie, en beweer dat mediakonferensies haar geestesgesondheid benadeel.

Gilles Moretton, president van die Franse Tennisfederasie, het Osaka se mediaboikot as ʼn “fenomenale fout” beskryf.

Die organiseerders van die vier Grand Slams, Wimbledon, die Franse Ope, die Australiese Ope en die Amerikaanse Ope, het gesê hulle het aan Osaka geskryf om na haar welstand te verneem en ondersteuning te bied.

“Sy is ook herinner aan haar verpligtinge, die gevolge daarvan om nie daaraan te voldoen nie en dat reëls eweneens op alle spelers van toepassing moet wees.”

Osaka het Sondag in reaksie op die boete op Twitter reageer. “Woede is ʼn gebrek aan begrip. Verandering maak mense ongemaklik.”

Die Grand Slam-raad het gesê Osaka se weiering om aan mediaverpligtinge deel te neem, is tot nadeel van haar teenstanders.

“Daar is niks belangriker as om te verseker dat geen speler ʼn onregverdige voordeel bo ʼn ander het nie. Dit is ongelukkig die geval in hierdie situasie as een speler weier om tyd af te staan om aan mediaverpligtinge deel te neem, terwyl die ander almal hul verpligtinge nakom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pierre ·

Seker maar jou keuse of jy met die media wil praat of dan nie, en hoekom is hulle bekommerd oor haar ondersteuners?

tweeling ·

Ek stem. Partykeer is daar belaglike vrae van die media wat jy ewe skielik moet antwoord.

Snowball ·

Entitlement. BLM ambassadeur. As jou ego te groot word struikel jy uiteindelik oor hom.

koos10 ·

Nog ‘n BLM ondersteuner wat groter wil wees as die spel.
(Tennis, die konialistiese sport, met wit geld ondersteun!)
Jy en Lewis moet maar julle eie land koop.
Skors haar en kry klaar. Julle sal baie agting wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.