Osaka glo weer lus vir tennis

Naomi Osaka tydens haar wedstryd teen Leylah Fernandez van Kanada. (Foto: Getty Images/AFP)

Naomi Osaka, wenner van vier Grand Slam-toernooie, het in ’n onderhoud gesê dat sy weer lus is om tennis te speel.

Die Japanse speler het vroeër ’n onbepaalde blaaskans van tennis geneem nadat sy deur die 19-jarige Leylah Fernandez uit die Amerikaanse Ope geskakel is.

“Ek weet ek sal weer tennis speel,” het Osaka in ’n episode van The Shop, ’n HBO-televisiereeks, gesê.

“Dit sal my nie eintlik veel pla of ek wen of verloor nie; ek wil net graag weer die vreugde ervaar om terug op die baan te wees.”

Die 23-jarige tennisspeler het vroeër Wimbledon misgeloop, terwyl sy haar ook aan die Franse Ope onttrek het. Sy het in dié tydperk aangevoer dat sy aan depressie ly, terwyl mediakonferensies glo nadelig vir haar geestesgesondheid is.

Sy het weliswaar die Olimpiese vlam tydens die openingseremonie in Tokio laat brand, maar sy is in die derde ronde van die Spele uitgeskakel.

In haar jongste onderhoud het Osaka gesê dat sy mal oor wedywering was.

“Hoe langer die wedstryd, hoe lekkerder was dit vir my. Maar onlangs was die spanning net te veel as die wedstryd langer sou aanhou. Ek het net ’n wegkomkans van alles nodig gehad.”

Volgens Mari Osaka het haar suster gesukkel om kritiek te hanteer – veral toe sy in die tweede ronde van die Italiaanse Ope in Rome uitgeskakel is.

“Naomi het onlangs vir my gesê ’n familielid het aangevoer dat sy nie goeie tennis op kleibane speel nie. By elke mediakonferensie moet sy hoor dat haar statistieke op kleibane nie vir goeie leesstof sorg nie,” het Mari destyds gesê.

“Toe sy in Rome die onderspit gedelf het, was sy geestelik baie kwesbaar. Sy het almal se kommentaar begin glo dat sy op kleibane sukkel.”

Maar vir iemand wat kwansuis nie veel van die kollig hou nie, is sy tog in haar noppies wanneer dit op haar skyn.

“Ek glo jy moet jou eie pad loop in plaas daarvan om ander te volg,” het sy gesê toe Netflix ’n dokumentêre program oor haar loopbaan gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

So die ondersteuning van die BLM brigade met vuisies gebal en kniel op knieg , bring toe nie juis baie geld in nie , nê ? Dis merkwaardig.

Jan Seerot ·

Ag snert man. Mense is swak verloorders. Dit is hoe jy die verloor geestelik verwerk.

Om te wen is nie alles nie.
Dit is die enigste ding.

As jy verloor het, gaan terug huistoe en werk harder. Dan kom jy weer terug na die kompetisie toe, maar hierdie keer met weerwraak, en om te wen.

commontar ·

As jy jouself wil uitgee vir ‘n toffie moet jy bereid wees om gekou te word. As sy haarself, haar sienings en politieke oortuigings aldag in die media wil het en geld maak daaruit dan moet sy maar die onderhoude, wat nog voor haar geboorte deel van die sport was, doen in my opinie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.