Osaka katjie van die tennisbaan

Japan se Naomi Osaka tydens die eindstryd van die Australiese Ope. (Foto: David Gray / AFP)

Die 23-jarige Naomi Osaka van Japan het die Amerikaner Jennifer Brady Saterdag in Melbourne geklop in die vroue-enkelspel in die Australiese Ope. Sy het met 6-4 en 6-3 gewen.

Dit was Osaka se vierde sege in ʼn Grand Slam-toernooi nadat sy die Amerikaanse Ope in 2018 en 2019 en haar eerste Aussie-ope in 2019 gewen het.

Osaka is ongetwyfeld die nuwe koningin van hardebaantennis en is een van net sewe spelers wat nou nog speel, wat met vier oorwinnings in Grand Slam-toernooie spog.

Die ander is die legendes Roger Federer, Novak Djokovic en Rafael Nadal, asook Serena en Venus Williams en Kim Clijsters.

Osaka se pa kom van Haïti, het jare gelede met ʼn Japanner getrou en in 1999 na New York verhuis om sy twee dogters aan meer tennis bloot te stel.

En hoe het Osaka haar wennerstoespraak begin?

Japan se Naomi Osaka ná haar oorwinning in die Australiese Ope. (Foto: David Gray / AFP)

“Hallo, almal.”

Toe sy Brady aanspreek en moed inpraat, was sy ewe beskeie.

“Hoe wil jy genoem word, Jenny of Jennifer,” het sy gevra.

“Jennifer, ek wil jou geluk wens. Nadat ons in die Amerikaanse Ope kragte gemeet het, het ek aan almal voorspel dat jy ʼn probleem gaan wees, en ek was reg. Om te sien hoe jy oor die afgelope paar maande gegroei het, is baie koel.”

Osaka maak staat op ʼn puik eerste afslaan (haar vinnigste afslaan in die eerste stel was 194 km/h en in die tweede 197 km/h) en haar gemiddeld was 177 km/h.

Sy het nege kishoue geslaan en slegs drie dubbelfoute begaan.

Sy het net nege ongedwonge foute in die tweede stel begaan, sake van die agterbaan beheer en met ’n kliniese vertoning die skroewe al stywer vasgedraai.

Sy is nou in 23 opeenvolgende wedstryde onoorwonne nadat sy in Februarie in die Fed-bekertoernooi teen die onbesonge Spanjaard Sara Sorribes Tormo slae gekry het.

Sy sal nou tweede (na Ashleigh Barty) op die WTA-ranglys opskuif en weet maar sonder twyfel, op harde bane gaan sy byna onstuitbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.