Osaka onttrek haar aan Franse Ope

Naomi Osaka. Foto: Martin Bureau/AFP.

Naomi Osaka – die wêreld se naasbeste vrouetennisspeler en hoogsbetaalde vroueatleet (sy het $37,4 miljoen in 2020 verdien) – het besluit om haar aan die Franse Ope te onttrek.

Die 23-jarige speler het op sosiale media geskryf dat sy sedert die Amerikaanse Ope-toernooi van 2018 – ’n toernooi wat sy gewen het – met depressie worstel.

Sy was die afgelope ruk ook in die spervuur nadat sy op die vooraand van die gewilde Grand Slam-kompetisie op Roland Garros gesê het dat sy nie haar mediaverpligtinge sal nakom nie. Sy het kort daarna versuim om ʼn mediakonferensie te hou ná haar eerste oorwinning van 6-4, 7-6 (7/4) oor Patricia Maria Tig.

Organiseerders het gedreig om haar uit die toernooi te skors, terwyl Ashleigh Barty – die wêreld se voorste vrouespeler – gesê het dat mediasessies deel van ’n professionele sportster se pligte is.

Osaka – wat vroeër aangevoer het dat mediakonferensies nadelig vir haar geestesgesondheid is – het gisteraand op Twitter geskryf dat dit tot almal se voordeel is as sy nie meer deel van die Franse Ope-aksie is nie.

“Dit was nooit my bedoeling om die aandag op myself te vestig nie; tog erken ek dat my tydsberekening swak was en dat ek die boodskap beter kon oordra.”

Sy het daarna haar probleem met depressie beklemtoon en aangevoer dat sy uit die staanspoor in Parys kwesbaar en angstig gevoel het.

“Ek het daarom gedink dat ek liewer op myself moet fokus en die mediakonferensies vermy.”

Volgens Osaka se suster, Mari, het die Japanse tennisster al in die aanloop tot die Franse Ope onder kritiek deurgeloop.

“Naomi het onlangs vir my gesê dat ’n familielid aangevoer het dat sy nie goeie tennis op kleibane speel nie. By elke mediakonferensie moet sy hoor dat haar statistieke op kleibane nie vir goeie leesstof sorg nie,” het Mari gesê.

Osaka is in die tweede ronde van die onlangse Italiaanse Ope in Rome deur die VSA se Jessica Pegula uitgeskakel. Sy het uit pure frustrasie haar tennisraket teen die grond geslaan.

“Toe sy in Rome die onderspit gedelf het, was sy geestelik baie kwesbaar. Sy het almal se kommentaar begin glo dat sy op kleibane sukkel.”

Intussen het Serena Williams gesê dat sy Osaka ’n druk wil gee omdat sy weet waardeur sy gaan.

“Ons is almal verskillend en almal het verskillende persoonlikhede. Dit sal goed wees as ons haar uitlos sodat sy dinge kan hanteer en uitsorteer soos wat sy graag wil,” het Williams gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tubac ·

Haar BLM konneksies word nou haar ondergang. Te groot vir haar skoene.

Tanja ·

…maar sy bly nie stil op sosiale media nie…hoe verklaar jy dit… braaf genoeg om op sosiale media haar sê te sê maar nie in lewende lywe nie, gin wonder sy ly aan ń geestes toestand nie

koos10 ·

Tata.
Snaaks hoe die hoogsbetaalde atlete, BLM ondersteun en dan ook nog dink die wêreld skuld hulle iets. Nee wat girl, gaan sort jou kop uit en wees dankbaar wat jy het.

Dup ·

Die jong dame moet groot word;die wêreld draai nie net om haar nie.

Anoniem ·

Die “BLM slagoffer mentaliteit geen” is die oorsaak van haar depressie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.