Osaka se doppie deur 20-jarige geklink

Amanda Anisimova vier haar oorwinning teen Naomi Osaka. Foto: William West/AFP.

Ná twee uur en 15 minute se spel op die Margaret Court-baan in Melbourne sal Naomi Osaka nie meer haar Australiese Ope-titel kan verdedig nie.

Die verdedigende kampioen is in drie stelle deur die ongekeurde Amanda Anisimova geklop. Die eindtelling was 4-6, 6-3 en 7-6 in die vrolike Amerikaner se guns.

Die 20-jarige speler het eerstens goed in die tweede stel terugbaklei nadat Osaka die openingstel met 6-4 gewen het, waarna sy koelkop gebly het om die valbylpot met 10/5 te wen.

“Ek is eintlik sprakeloos. Ek het soveel pret op die baan gehad, ek is mal daaroor om in Melbourne te speel en ek kan nie ophou glimlag nie,” het Anisimova  ná die afloop van die wedstryd gesê.

Volgens Anisimova het sy vooraf geweet dat sy haar beste sal moet gee om Osaka uit te skakel.

“Naomi speel altyd goeie tennis en ek het probeer om in die tweede stel meer aggressief op die baan te wees. Ek is ongelooflik bly dat dinge vandag goed vir my uitgedraai het; dit beteken vir my baie.”

Sy sal nou in die vierde ronde teen die wêreld se no. 1-speler, Ashleigh Barty, te staan kom.

Barty het juis vroeër korte mette met Italië se Camila Giorgi gemaak om hul derderondewedstryd met 6-2 en 6-3 te wen.

Intussen is Rafael Nadal ook op koers om sy plek in die volgende ronde te bespreek.

Die 35-jarige Spanjaard het die eerste stel teen Rusland se Karen Khachanov met 6-3 gewen en hy geniet reeds ’n voorsprong van 2-0 in die tweede stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.