Osaka wen titel ná Azarenka-blitzkrieg

Naomi Osaka. (AP Photo/Seth Wenig)

Die Japanse tennisspeler Naomi Osaka het gister ’n aanvanklike blitzkrieg deur Victoria Azarenka afgeweer om haar tweede Amerikaanse Ope-titel te wen.

Indien jy egter ooit gewonder het wat dit beteken om soos ’n vetgesmeerde blits weg te trek, moes jy net vir Azarenka in die eerste halfuur van die wedstryd dopgehou het. Die Belo-Russiese ster het die eerste stel binne ’n japtrap beklink en vroeg in die tweede stel met 2-0 voorgeloop.

Maar Osaka – op 22 die jonger speler met nege jaar – weet hoe om belangrike wedstryde te wen en sy het stelselmatig die oorhand begin kry. Haar afslane is teen meer as 160 km/h afgevuur en sy het die bal deksels hard begin terugslaan; hoewel Azarenka hard probeer het, het sy nie veel antwoorde vir Osaka se weerligstraalhoue gehad nie.

Kort nadat sy gewen het, het sy rustig en sonder enige bekommernisse, plat op die baan gaan lê.

Naomi Osaka. (AP Photo/Seth Wenig)

“Mens sien altyd hoe ander spelers op die grond neerval wanneer hulle ’n toernooi gewen het. Ek is skrikkerig vir beserings, daarom het ek dit so rustig as moontlik probeer doen. Maar ek wou nog altyd met my eie oë gesien het wat hulle op daardie oomblik sien,” het sy gedurende die oorhandigingseremonie gesê.

Die eindtelling was 1-6, 6-3 en 6-3 in haar guns.

Oudergewoonte het Osaka weer ’n masker gedra om hulde aan ’n swart slagoffer van beweerde polisiegeweld in die VSA te bring. Hierdie keer het Tamir Rice, ’n 12-jarige wat in 2014 deur die polisie doodgeskiet is, se naam op haar masker gepryk.

Vroeër in die toernooi het sy ook ’n masker met George Floyd se naam daarop gedra.

“Ek wil graag hê dat mense oor hierdie kwessie moet begin praat,” het sy gesê.

Gedurende die Western & Southern-opwarmingstoernooi het sy aanvanklik uit die halfeindstryd teen België se Elise Mertens onttrek. Sy het egter later ingestem om te speel.

“Ek is in die eerste plek ’n swart vrou voordat ek ’n atleet is. En as swart vrou voel ek dat daar baie belangriker dinge is wat eerder aandag moet geniet as om te sien hoe ek tennis speel,” het sy destyds gesê.

Victoria Azarenka. (AP Photo/Seth Wenig)

Op haar beurt het Azarenka – wat Serena Williams in die halfeindstryd uitgeboender het – gesê dat sy nie veel oor die nederlaag sal tob nie.

“Ek is nie noodwendig hartseer nie, maar dit is niks lekker om te verloor nie. Dit gaan wel absoluut niks aan die saak verander as ek nou heeltyd hieroor sit en wroeg nie. Ek het twee fantastiese tennisweke agter die blad wat ek baie geniet het.”

In vanaand se manseindstryd sal Dominic Thiem en Alexander Zverev kragte meet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

tweeling ·

Die mense sal ophou praat oor BLM omdat hulle aanslag verkeerd is. Maak maar vrede daarmee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.