Oud Mercedes-baas loof Hamilton, maar sê motor maak ’n verskil

Lewis Hamilton. (Albert Gea via AP)

Die 35-jarige Lewis Hamilton is stewig op pad om Michael Schumacher se rekords die een ná die ander te verbeter.

Die Brit het met sy klinkende oorwinning tydens die Spaanse Grand Prix sy 156ste podiumplek losgery om die legendariese Duitser se langstaande rekord van 155 podiumplekke verby te steek.

Hy is ook kort op die hakke van Schumacher se 91 loopbaanseges en sewe kampioenskaptitels.

Maar, sê Norbet Haug, die renmotors waarmee Schumacher in sy dae by Ferrari rondgejaag het, is nie naastenby van dieselfde kaliber as Hamilton se pikswart Mercedes nie.

“Dit was vir jare amper ondenkbaar dat Michael se rekord van 91 oorwinnings in die slag gaan bly. Maar so twee jaar gelede het dit duidelik begin word dat Lewis goed op dreef is om alle bestaande F1-rekords te verbeter,” het die voormalige vise-president van Mercedes se motorsportafdeling gesê.

Haug was aan Hamilton se sy toe die Engelsman vir die eerste keer met die wedrenlouere in 2007 weggestap het en toe hy in die daaropvolgende jaar sy eerste wêreldtitel ingeoes het.

Hy is dus maar net te bewus van Hamilton se talentvolle bestuursvernuf. Tog meen hy dat hedendaagse tegnologie ook ’n rol in sy sukses speel.

“Michael was nooit deel van só ’n superieure omgewing nie. Verder het hy ook nooit met só ’n motor soos Lewis se Mercedes gejaag nie – dit is werklik ongeëwenaarde tegnologie.

“Wat Lewis egter oor die afgelope 14 jaar in terme van bestendigheid en vaardigheid vermag, is egter ongehoord. Ek glo nie dat sy prestasies ooit herhaal sal word nie,” het Haug bygevoeg.

Jean Todt, die voormalige Ferrari-spanbestuurder en een van Schumacher se hegte vriende, het al vantevore gesê dat hy nie eintlik veel gepla is deur Hamilton se prestasies nie.

“Ek is baie lief vir Michael, maar dit is onmoontlik om te sê wie die beste renjaer van alle tye is. Daar is Juan Manuel Fangio, Jim Clark, Ayrton Senna en Michael. Jy kan eintlik net bepaal wie die beste van hul era was,” het Todt aan The Daily Mail gesê.

“Ek weet dat Lewis binnekort Michael se rekord kan verbeter. Hy het alles tot sy beskikking by Mercedes, maar ek gee rêrig nie om nie.

“Ek onthou toe ek in 2000 in Suzuka op die podium saam met Michael was. Hy het pas sy eerste titel saam met Ferrari gewen en ek het vir hom gesê dat ons lewens nooit weer dieselfde sou wees nie.

“Ons het alles bereik wat ons wou. Ná ’n ongeluk soos Michael s’n, maak dit saak of Lewis meer titels gewen het?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael ·

En steeds glo Hamilton hy is die mees benadeelde renjaer ook van alle tye. Mens kan jou jou nie eers indink wat Hamilton sou kon vermag indien hy nie so benadeel was in sy loopbaan nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.