Ouderdom ‘nie ’n faktor’ vir Alonso

Fernando Alonso (Foto: AP Photo)

Fernando Alonso vier in Julie sy 41ste verjaardag. Tog is hy steeds ’n krag waarmee veel jonger renjaers moet rekening hou; selfs al beskik sy Alpine-renmotor nie oor dieselfde spoed as ’n Red Bull of ’n Ferrari nie.

“In ander sportsoorte moet jy op kondisionering staatmaak, maar in motorsport is ouderdom nie eintlik ’n faktor nie. Ek verkies veel eerder ’n nuwe vlerk op my renmotor as om drie jaar jonger te wees,” het die Spanjaard in ’n onderhoud met BBC Sport gesê.

Volgens Alonso was die paar jaar weg van die sport goed vir hom – hy het sy kop skoon gekry en hy is fikser as ooit.

“Ek glo dat ek nog so goed is as in die dae toe ek 25 of 30 jaar oud was.”

Hy is ná vanjaar se vyf wedrenne 16de op die jaerspunteleer, maar daar was al ’n paar hoogtepunte sedert hy sy terugkeer tot die sport gemaak het.

Almal onthou nog verlede jaar se titaniese stryd met Lewis Hamilton in Boedapest waar sy verdedigende bestuurswerk die Mercedes-renjaer se planne lelik ontwrig het.

“Lewis Hamilton verdien eintlik ’n goeie pak slae. Hy was tydens die Hongaarse Grand Prix gereeld op die radio om te kla dat Alonso kroek; iets wat hy beslis nie gedoen het nie,” het Jeremy Clarkson ná die afloop van daardie wedren in die Britse pers geskryf.

Dan was daar sy derde plek in Katar – die 98ste podiumplek van sy roemryke loopbaan.

Fernando Alonso het verlede jaar weer op ’n F1-podium gestaan. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

“Daar is baie talentvolle renjaers op die wegspringrooster en dit gaan ongetwyfeld ’n uitdaging wees om op die podium te eindig, maar ek is ’n beter bestuurder,” was Alonso se amperse profetiese woorde in ’n destydse onderhoud.

Terselfdertyd is die 40-jarige renjaer nog so taai soos altyd.

Hy het in 2021 sy kaak in ’n fietsryongeluk gebreek en hy moes vir ’n hele seisoen met twee titaan-plaatjies in sy mond bestuur het.

Dit is hierdie naweek tyd vir die Spaanse Grand Prix en Alonso sal met ’n stewige vertoning in sy geboorteland vorendag wil kom; hy is immers oorgehaal om nog podiumplekke te behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.