Pacquiao teen McGregor, maar met voorwaardes

Manny Pacquiao. Foto: Twitter.

Die veglustige Ier Conor McGregor is altyd gereed vir aksie; maak nie saak of dit in die UFC-hok of in die bokskryt is nie.

Nou wil hy die internasionale boksster, Manny Pacquiao, in ’n vertoongeveg aanvat en ’n gedeelte van die geld wat ingesamel word, sal gebruik word om die Covid-19-pandemie te beveg.

Volgens berigte het die 41-jarige Filippyn die uitdaging aanvaar, maar op sekere voorwaardes. Hy wil onder meer hê dat sy promosiemaatskappy, Pac Sports and Entertainment, deel van die geveg se bemarkingsproses moet wees.

“Ek is meer as bereid om vir die ondersteuners te gee waarna hulle soek, naamlik ’n opwindende geveg teen Conor McGregor, maar net as ek en my maatskappy die medepromotors is,” het Pacquiao gesê.

Die Filippyn was in 2019 laas in die bokskryt toe hy Keith Thurman geklop het, maar hy het onlangs weer ter voorbereiding vir die McGregor-stryd begin oefen.

Conor McGregor. Foto: Twitter.

McGregor, ’n gemengdegevegskunsatleet, het in 2017 vir Floyd Mayweather in Las Vegas aangevat. Hy het, so tussendeur die twakpraatsessies, ’n heel skaflike vertoning gelewer en $100 miljoen vir sy moeite in die sak gesteek.

Maar Pacquiao se afrigter, Freddie Roach, sê dat die Ier nie eintlik ’n kat se kans het nie. Hy meen trouens dat McGregor binne twee rondes harpuis sal ruik.

Mayweather het ook op ’n podsending gesê dat hy vir die regte prys ook teen McGregor of Khabib Nurmagomedov sal veg.

“As ek ’n maklike $300 miljoen kan verdien, waarom nie. Ek gaan in elk geval die geveg wen,” het Mayweather gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.