Penny sê Tatjana is ’n medalje werd

Penny Heyns. Foto: Reg Caldecott.

In 1996 was Penny Heyns Suid-Afrika se goue meisie by die Olimpiese Spele in Atlanta waar sy heel bo op die podium in die 100 m- en 200 m-borsslagitems gestaan het.

Vier jaar later in Sydney het sy die brons medalje in die 100 m-item gewen; dit was die laaste keer dat ’n Suid-Afrikaanse vroueswemmer met ’n Olimpiese medalje huis toe gekom het.

Sy meen egter dat die jong swemsensasie Tatjana Schoenmaker oor die vermoë beskik om in haar medalje-voetspore te volg.

“Tatjana se onlangse vertonings het my baie beïndruk en ek glo dat sy ’n realistiese kans staan om ’n medalje by die Olimpiese Spele in te oes. Die enigste onbeantwoorde vraag is watter kleur die medalje gaan wees,” het Heyns gesê.

Schoenmaker is deesdae ’n groot vis in ’n swembad en sy verbeter die een rekord na die ander. Sy het gesorg vir opwinding by die pasvoltooide nasionale kampioenskap in Gqeberha (Port Elizabeth), terwyl die Tuks-swemmer ook die eerste Suid-Afrikaanse vrou was om ’n podiumplek by die Wêreldlangbad-kampioenskap in 2019 los te swem.

Heyns is verder opgewonde dat Kaylene Corbett vir dieselfde item by die Spele gekwalifiseer het, maar waarsku terselfdertyd dat hulle moet waak om nie deur die opwinding meegevoer te raak nie.

Tatjana Schoenmaker in aksie. (Foto: Lee Jin-man/AP)

“Ek hou van Tatjana se houding in die swembad. Dit lyk nie asof sy haarself met ander wil vergelyk nie; sy wil net na die beste van haar vermoë swem. Dit is die sleutel tot sukses op die hoogste vlak: Dit help nie om met iemand anders mee te ding nie, want dan kan jou aandag maklik afgetrek word.”

Net soos duisende ander atlete wêreldwyd was Schoenmaker teleurgesteld toe die Spele verlede jaar weens die Covid-19-pandemie uitgestel is.

“Vir 15 jaar het ek daarvan gedroom om by die Olimpiese Spele in aksie te wees en 2020 sou uiteindelik die jaar gewees het. Maar aan die ander kant, gaan ’n jaar werklik só ’n groot verskil maak? Dit gee my eintlik meer tyd om aan my vaardighede te skaaf, terwyl my ondersteuningspan fantasties is; om ’n jaar langer te wag is eintlik voordelig,” het sy verlede jaar gesê.

En sy is duidelik besig om die vrugte van ’n bykomende voorbereidingsjaar se harde werk te pluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet ·

Wens haar alle vooerspoed toe,sy gaan nog groot hoogtes bereik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.