Pérez wen dramatiese wedren vir Red Bull

Sergio Pérez vier sy oorwinning. Foto: Natalia Kolesnikova/AFP.

Kyk, selfs die beste draaiboekskrywer in Hollywood sou gesukkel het om met soveel drama vorendag te kom as wat vandag in Azerbeidjan afgespeel het.

Red Bull se Max Verstappen was aanvanklik goed op pad om in die strate van Bakoe te wen. Op ’n drafstap as ’n mens eerlik wil wees.

Hy was ’n hele paar sekondes voor Lewis Hamilton, terwyl sy spanmaat, Sergio Pérez, uitstekende werk gedoen het om die wêreldkampioen in die derde plek te hou.

’n Eerste en tweede plek het vir Red Bull gewink

Maar toe tref die noodlot.

Een van Verstappen se bande het moeilikheid gegee en hy het in die versperring langs die baan vasgejaag. Sy tegniese span moes verslae toekyk hoe die jong Nederlander uit sy motor klim en vies na die band skop.

Max Verstappen ná sy ongeluk. Foto: Ozan Kose/AFP.

Vroeër in die wedren het dieselfde met Aston Martin se Lance Stroll gebeur en die bandvervaardiger sal moet bontstaan om al die spanne se vrae te beantwoord.

Maar nog was dit nie die einde van die dag se drama nie.

Toe die wedren weer na die Verstappen-tragedie hervat is, het Hamilton ook ’n gulde kans om weer eerste op die punteleer te wees deur sy vingers laat glip. Hy het kort na die wegspring van die baan gejaag.

Die dag het dus aan Pérez behoort wat beslis verdien het om met die louere weg te stap. Dit was sy eerste oorwinning saam met Red Bull en slegs die tweede van sy loopbaan.

Aston Martin se Sebastian Vettel was tweede oor die wenstreep.

  • Uitslae:
  1. Sergio Pérez (Red Bull)
  2. Sebastian Vettel (Aston Martin)
  3. Pierre Gasly (Alpha Tauri)
  4. Charles Leclerc (Ferrari)
  5. Lando Norris (McLaren)
  6. Fernando Alonso (Alpine)
  7. Yuki Tsunoda (Alpha Tauri)
  8. Carlos Sainz (Ferrari)
  9. Daniel Ricciardo (McLaren)
  10. Kimi Raikkonen (Alfa Romeo)

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Verbasend dat Red Bull, wat gewoonlik “lig” op bande is”, se bande gefaal het.
Pirreli het bietjie verduideliking om te doen. Ek verlang nou na die dae toe Pirelli en Michelen bande voorsien het.

Frans ·

Jammer dat die linker agterband van twee motors die gees gegee het en so Verstappen van ‘n wen beroof het en sy kanse om die kampioenskap ‘n gevoelige knou toegedien het.

koos10 ·

Frans, ja dit is bitter jammer, maar ek is nie oortuig dat Max hierdie jaar die kampioenskap gaan wen nie. Red Bull het wel ‘n kans om die vervaardiger te wen, want hulle twee karre is konstant. Lewis kry egter nog steeds voorkeur bo Bottas (die twee se verskillende agtervlerke die naweek het dit bevestig). Lewis kry alles van sy span af, en hulle gaan alles insit om hom ‘n agtmalige kampioen te maak. Mercedes het ook nog altyd in die eerste helfte van ‘n seisoen gesukkel om hulle voete te vind, en dan is daar nog die kwessie van die “bending wings” waaroor Red Bull en Mercedes koppe stamp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.